>

LEER MEER

>

Hier kom nog groot dinge

Onthou die naam Jestus Fouché – jy gaan beslis in die toekoms nog baie van hom hoor.

HOU VIR JESTUS DOP:

As eerstejaarstudent op die kampus in Vanderbijlpark is Jestus op pad om sy droom te bewaarheid om ’n geoktrooieerde rekenmeester te word. Hy is tans vir die BCom GR uitgebreide graadprogram in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe ingeskryf.

Met ses onderskeidings en ’n gemiddeld van 90% in die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen, is Jestus Fouché van plan om sy droom om ’n geoktrooieerde rekenmeester te word, waar te maak.

Jestus was verlede jaar die hoofseun van die Destinata Skool in Meyerton.

Jestus het vroeër vanjaar 'n toppresteerdertoekenning van die Gautengse Onderwysdepartement ontvang. Hy is ook as die provinsie se beste leerder met spesiale onderwysbehoeftes aangewys.

Wat hom so ’n buitengewone student maak, is die pad wat hy geloop het om hierdie opwindende nuwe fase in sy lewe te bereik: hy het nie toegelaat dat ’n ernstige leerhindernis in sy pad staan nie.  Deur die beperkings van aandagtekortversteuring (ATV in Afrikaans en ADD in Engels) doeltreffend te hanteer, het Jestus aan homself – en aan ander – bewys dat dit moontlik is om nie net bloot ATV te probeer hanteer nie, maar om daarmee saam te leef en selfs as gevolg daarvan uit te styg.

 

Die soet smaak van oorwinning

 

Jestus het in die 2017 Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen ’n algehele gemiddelde van 90% en ses onderskeidings behaal. Hy het 98% vir rekeningkunde, 93% vir Afrikaans en besigheidstudies, 92% vir rekenaartoepassingstegnologie sowel as wiskundige geletterdheid, en 91% vir lewensoriëntering behaal. En die spreekwoordelike kersie op die koek? Jestus het hierdie uitslae behaal as ’n leerder met spesiale onderwysbehoeftes (LSOB).

 

Met sy goeie uitslae het Jestus vroeër hierdie jaar trots die verhoog betree vir die Gautengse Onderwysdepartement se toppresteerdertoekennings, waar hy as die provinsie se beste LSOB-leerder aangewys is.

 

Hy het ook die toekenning ontvang as een van die top drie leerders in die Sedibeng-Oos Onderwysdistrik wat die beste presteer het, en het verdere erkenning ontvang as een van die top 10 leerders van die Emfuleni Munisipaliteit.  Prof Linda du Plessis, adjunk-visekanselier vir geïntegreerde beplanning en vir kampusbedrywighede in Vanderbijlpark, het Jestus onlangs geloof as een van die top twee akademiese presteerders onder die kampus se inname van eerstejaarstudente.

 

Jestus se pad met ATV

 

“My gedagtes dwaal dikwels en as gevolg daarvan is dit baie moeilik om op ’n taak waarmee ek besig is, te konsentreer,” sê Jestus, en voeg by dat sy leeruitdaging dit ook vir hom moeilik maak om moeilike konsepte te verstaan.

 

Jestus sê dat hy, in ’n doelgerigte poging om die nadelige gevolge van ATV uit te kanselleer, homself moes leer om met ’n taak besig te bly totdat hy dit bemeester het. Dit beteken dat hy baie ure aan sy huiswerk en voorbereiding vir eksamens moes bestee.

 

Toe hy gevra is of hy homself as rolmodel vir ander LSOB-leerders sien, het hy gesê hy sal geëerd wees as dit die geval is. “Benewens my akademiese prestasie, wil ek graag ander motiveer om te besef dat met harde werk en toewyding, enigiets moontlik is. Dit is werklik waar: if you can dream it, you can do it!”

 

Presteer op baie vlakke

 

Die akademie is nie sy enigste prestasie nie. Jestus, wat sy hoërskoolloopbaan by die Destinata Skool in Meyerton voltooi het, was in 2017 die hoofseun van die skool.

 

Wanneer hy nie aan sy leierskapsverpligtinge en akademiese verantwoordelikhede moes aandag gee nie, het Jestus aan verskeie sportsoorte deelgeneem en, getrou aan sy aard, as veelsydige sportman uitgeblink.

 

Hy was van 2011 tot 2016 ’n lid van die Sedibeng-skaakspan wat die streek by die SA Junior Skaakkampioenskap verteenwoordig het.  Hy is in 2015 en 2016 vir Sedibeng-Oos se landloopspan gekies en was in 2017 in die LSOB SA Atletiekkampioenskap die wenner van die 800 m vir mans en die 1 500 m aflos. As krieketspeler het hy vir twee seisoene (2015 en 2016) die Gautengse LSOB-krieketspan verteenwoordig.