>

LEES MEER

>

Katlego verruil oorfone

vir ’n sjefhoed

Haar kop vir radio word deur haar hart vir kookkuns geëwenaar. Katlego Ramagaga, radiostasiebestuurder op die NWU se kampus in Mahikeng, vertel ons waar haar liefde vir kookkuns vandaan kom.

“Ek maak al kos vandat ek 12 jaar oud is, en my eerste maaltyd was spaghetti en maalvleis,” sê Katlego, wat onlangs aan die gewilde kookkunskompetisieprogram Come Dine With Me South Africa deelgeneem het. Sy was een van vier deelnemers in die tweede episode van die vierde seisoen van die reeks, wat op 22 Februarie 2018 uitgesaai is.

 

Katlego is die afgelope vyf jaar ’n geesdriftige aanhanger van die program, en het laat verlede jaar die geleentheid om ’n deelnemer te wees, met albei hande aangegryp. Nadat die program se vervaardigers haar laat weet het dat sy as deelnemer gekies is, het sy begin om haar spyskaart vir die gasheeraand saam te stel, en uiteindelik ’n driegangmaaltyd ontwikkel.

 

Dit het bestaan uit speseryhoender met appelkoolslaai vir ’n voorgereg, speserylamskenkel op geroomde gekruide knoffelkapokaartappels vir die hoofgereg, en wat sy noem ’n “stoute Oreo-Amarula-kaaskoek” vir die nagereg.

 

Al doende leer mens

 

“Ek het die maaltyd elke Sondag vir die vyf Sondae voor die kompetisie geoefen. Ek was later op die punt waar ek dit nie meer wou eet nie en my familie en vriende as my proefkonyne gebruik het. Die resultate was elke week beter.

 

“Die nagereg, wat my spesialiteitsnagereg geword het, is vervolmaak letterlik die aand voordat dit my beurt was om die ander drie deelnemers te onthaal. Ek het die resep seker ses keer probeer voordat ek met die resultate tevrede was,” sê Katlego.

 

“Kosmaak en onthaal is in my gene, want ek kom uit ’n gesin wat alles met ’n braai of groot Sondag-middagetes vier. Kosmaak was dus nog altyd iets waarby ek in die huis betrokke was. Ek kry my inspirasie by my oumas en my tantes, en natuurlik is ek ook mal oor my ma se kos. Ek is dankbaar dat sy altyd bereid was om my te laat eksperimenteer,” sluit sy af.

 

Benewens haar veeleisende rol as kampusradiostasiebestuurder, werk Katlego tans aan ’n kosblog waar sy sommige van haar gunstelingresepte sal deel, asook aan planne om van dié kos te maak en by plaaslike maandelikse markte te verkoop.

 

 

 

 

Katlego Ramagaga, radiostasiebestuurder op die NWU se kampus in Mahikeng, sê kosmaak en onthaal is deel van haar DNS.