>

>

Beste Kollega,

Boodskap van die

visekanselier

Die NWU se akademiese jaar snel vinnig na ’n suksesvolle einde toe. In die lig van wat ons in die verlede beleef het en wat weer die afgelope paar maande by ander universiteite plaasgevind het, is ons uiters dankbaar dat ons ons verskillende aktiwiteite sonder onderbrekings kon voltooi.

 

’n Paar woorde van dank is gepas – eerstens aan ons studenteleiers, wat hulle oog op die bal gehou het en ons studente verantwoordelik gelei het. Tweedens aan die akademiese personeel, wat hulle fokus op ons kernaktiwiteite, onderrig en leer, navorsing en gemeenskapsbetrokkenheid, behou het. Derdens aan al ons toegewyde professionele en ondersteuningspersoneel, wat op ’n bewonderenswaardige wyse die wiele aan die rol gehou het. Ons waardeer julle bydraes!

 

Ek weet dit was ’n moeilike jaar, nie soseer as gevolg van die amptelike verandering van die struktuur op 1 Julie nie, maar as gevolg van die tyd wat dit neem om al die strukture en bestuurders in plek te stel.

 

Gelukkig sluit ons die einde van die jaar op ’n hoë noot af. Verskeie senior aanstellings is onlangs gemaak, en een van ons alumni, Demi-Leigh Nel-Peters, is as Mej Heelal gekroon. Boonop het ons begin om die implementering van ons nuwe korporatiewe kleur te loods. In 2018 sal die nuwe handelsmerk op al ons kampusse in werking gestel word en spoedig sal die NWU met pers – ’n lewendige en koninklike kleur – geïdentifiseer word.

 

Ek bedank julle almal van harte wat gefokus, toegewyd en positief bly en so ons nuwe strategie en struktuur laat werk.