REDAKSIONEEL

KLIK OM MEER TE LEES

 Eish! as die beste digitale publikasie gekroon

Beste kollegas

 

Gedurende 2017 het die redaksiespan saam met die grafiese ontwerpers van die NWU se Kurrikulumontwerp en Ontwikkeling: Grafiese Dienste vir julle sewe uitgawes van Eish! gebring. In hierdie uitgawes is julle op hoogte gehou van die jongste ontwikkelinge aan die NWU, wat die prestasies van die universiteit en sy personeel insluit.

 

Ons het deurentyd ons bes gedoen om die jongste tendense in digitale publikasie toe te pas – met skryfwerk sowel as ontwerp. Ons pogings het geslaag, aangesien Eish! by die Suid-Afrikaanse Publikasieforum se toekenningseremonie op 28 September in Johannesburg as die beste digitale publikasie aangewys is.

 

Hierdie jaarlikse kompetisie is vir korporatiewe publikasies regoor die mediaspektrum bedoel – van tydskrifte, nuusbriewe en koerante tot webwerwe, digitale publikasies, DVD's en nog meer.

 

Wat hierdie toekenning ekstra spesiaal maak, is die feit dat Eish! nie net teen die personeelpublikasies van ander universiteite meegeding het nie, maar ook teen dié van groot korporatiewe instellings soos MultiChoice Suid-Afrika (wat derde in hierdie kategorie geëindig het) en ander soos Anglo American, Stad Kaapstad, Absa en Sanlam.

 

’n Ekstra veertjie in die hoed van die NWU is dat ons alumnitydskrif, die NWU & U, kort op die hakke van Eish! was en tweede in dieselfde kategorie gekom het.

 

Die beoordelaars se kommentaar op Eish! was baie positief: “Dit is ’n uitstekende voorbeeld van ’n digitale publikasie wat goed werk. Die inhoud is gefokus en voldoen duidelik aan die doelwit van die publikasie. Die talle personeelfoto’s betrek die teikengehoor. Al die interaktiewe elemente maak dit ’n uitstekende kommunikasie-instrument wat die leser betrek. Die beoordelaars was uiters beïndruk met die tegniese vaardighede wat met hierdie publikasie saamgaan.”

 

Dit is egter op die ou einde julle, ons lesers, wat opgewonde moet wees oor julle personeelpublikasie. Stuur asseblief julle kommentaar en voorstelle aan ons om hierdie publikasie selfs nog beter te maak.

 

Die Eish!-span wens julle, ons lesers, ’n vrolike feesgety toe, gevul met sonskyn en gelukkige samesyn saam met julle geliefdes.

 

Lees lekker, en ons sien julle almal weer volgende jaar.

 

 

 

>

>