>

>

FOKUS OP

BUAtv:

Ligte, kamera, aksie

Met YouTube as een van die sosialemediaplatforms in Suid-Afrika wat die vinnigste groei, het die NWU besluit om munt te slaan uit hierdie gewildheid deur BUAtv te loods. Eish! het vir Clement Manoko, die uitvoerende direkteur van Korporatiewe Verhoudinge en Bemarking, gevra om ons meer oor hierdie onderneming te vertel.

Clement ManokoV: Eerstens, wat beteken die woord “bua”?

A: Bua is die Tswana-woord vir “praat”.

 

V: Waaroor praat julle en met wie?

A: Ons voer onderhoude met ’n wye verskeidenheid personeellede en studente regoor die universiteit in ’n poging om al die baanbrekeraktiwiteite en prestasies van die instelling te toon en te vier. Met die etiket “Wees Betrokke, Wees Ingelig, Wees Innoverend” (Be Involved, Be Informed, Be Innovative) beloof BUAtv om net die beste van die NWU bekend te stel.

 

V: Wie is almal lede van julle teikengehoor?

A: Dit sluit huidige studente en hulle ouers, voornemende studente, personeel en alumni in. Ons fokus ook op ander belanghebbers van die universiteit, soos die NWU Raad en die Raad van Donateure.

 

Ons webwerfgebruikers is ook deel van ons teikengehoor. Elke nuwe episode word vir ’n rukkie onder die opskrif, “In die kollig” (“In the spotlight”) op die NWU se landingsblad vertoon. Vroeëre episodes kan in die hande gekry word as jy eers op “Nuus en media” (in die boonste navigeerstaaf op die landingsbladsy) en dan op “Publikasies en video’s” klik.

 

V: Hoeveel episodes het julle al gemaak?

A: Daar is tot dusver drie episodes. Die eerste episode is vir die eerste keer op 25 Augustus uitgesaai, die tweede op 15 September en die derde op 27 Oktober. Hierdie episodes gaan oor die instelling se mees onlangse suksesse op die sportveld, in die akademie, navorsing, kulturele aktiwiteite en gemeenskapsbetrokkenheid.

 

V: Wie is julle aanbieders?

A: Constant van Graan, dosent in forensiese rekenmeesterskap, en die tweedejaar- kommunikasiestudie-student Ntsoaki Mokete is die twee hoof-ankerpersone. Verder is daar sewe veldverslaggewers regoor die NWU wat nuus aan ons belanghebbers bring. Al die veldverslaggewers is studente. Dit maak van BUAtv ’n waarlik studentegedrewe platform vir  handelsmerkposisionering.

 

V: Dit moet ’n yslike onderneming wees. Wie werk agter die skerms?

A: Maryke Laas van Korporatiewe Kommunikasie is die videograaf, terwyl Peter Pentz die produksiebestuurder en Bertie Jacobs die teksskrywer is.

 

V: Watter reaksie het BUAtv tot dusver ontvang?

A: Ons het baie terugvoer, onder meer ook aanbevelings, ontvang sedert die eerste episode uitgesaai is en ons sal beslis hierdie kommentaar ter harte neem wanneer ons toekomstige episodes vervaardig.