>

>

Beste Kollega,

Boodskap van die

visekanselier

Ek het onlangs die voorreg gehad om die jaarlikse toekenningseremonie by te woon waar ’n aantal uitmuntende alumni vereer is. Van hulle het alreeds afgetree, ander is in die middel van hulle loopbane en ander is nog jonk. Tog het hulle almal baie op hulle onderskeie gebiede bereik en rolmodelle geword.

 

In my toespraak het ek genoem dat ons na rolmodelle soek omdat hulle suksesse ons inspireer en versterk. Ons het hulle nodig.

 

Terwyl ons die uitmuntende alumni soos die internasionaal-erkende akademikus prof Rudi van Eldik, die hoog aangeskrewe staatsamptenaar dr Sejako Senatle SC, die vermaarde netbalafrigter dr Elsje Jordaan, en Mej Suid-Afrika, Demi-Leigh Nel-Peters, vereer, moet ons ook na rolmodelle in ons eie werksomgewing soek.

 

Ons toekomstige sukses sal nie op strategiedokumente gebou word nie, maar op die inspirerende leierskap en voorbeeld van individue. Natuurlik het ons ook ’n plan nodig. Daarom het ons ’n duidelike visie vir die toekoms geformuleer en dit in ’n omvattende institusionele plan omgesit.

 

Dit is nou die tyd om aan te tree en daardie rolmodel te wees wat ons nodig het om die plan te laat werk. Ons het nou leiers nodig om ons suksesmodel te implementeer en nie van verantwoordelikhede weg te skram omdat dit te moeilik is nie.

 

Gepraat van uitdagings: Lebohang Monyatsi, ’n NWU-alumna, het Suid-Afrika en die NWU trots gemaak toe sy as eerste prinses gekroon is tydens die heel eerste Mej Rolstoel Wêreld-kompetisie wat in Warskou, Pole gehou is.

 

Lebohang is in Vryburg in Noordwes gebore en het daar grootgeword. Sy het in 2014 ’n BA-graad in sosiale wetenskappe met sielkunde as hoofvak by die NWU se kampus in Mahikeng verwerf.

 

Ek hoop dat Lebohang, ons wenners van toekennings, en die stories in hierdie uitgawe van Eish!, ons bekroonde personeeltydskrif, julle sal inspireer en sal help om ’n bydrae tot ’n positiewe omgewing van uitnemendheid en sukses te lewer.