NWU produseer eerste gegradueerdes in

InHEEMSE

KENNISSTELSELS

in

 

 

 

 

 

 

 

 

Monicca Thulisile Bhuda van die NWU is een van die eerste studente in Afrika om ’n baccalaureusgraad in inheemse kennisstelsels te verwerf. Monicca het met onderskeiding geslaag. Saam met haar is Prof Eno Ebenso, uitvoerende dekaan van die NWU se Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe.

 

 

 

 

 

 

BEWEEG OOR FOTO OM MEER TE LEES

The NWU se kampus in Mahikeng het Suid-Afrika se eerste gegradueerdes van ʼn baccalaureusgraad in inheemse kennisstelsels (BIKS-program) opgelewer. Hierdie 12 baanbrekers was deel van die herfsgradeplegtigheid.

 

Die teenwoordigheid van gerekende gaste van verskillende organisasies met ’n belangstelling in inheemse kennisstelsels het die belangrikheid van hierdie grade beklemtoon. Dié gaste was van die Nasionale Departement van Wetenskap en Tegnologie (DWT), Noordwes se Departement van Kultuur, Kunste en Tradisionele Sake, die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad, SANBio/NEPAD, die Huis van Tradisionele Leiers, Noordwes se premierskantoor, die Nasionale Navorsingstigting, en ook houers van inheemse kennis en kollegas van ander universiteite.

 

Vestiging van ’n multidissiplinêre program

Volgens dr George Sedupane, ’n dosent by die Sentrum vir Inheemse Kennisstelsels (IKS) op die kampus, is die BIKS-program ingestel ná uitvoerige beplanningsessies en besprekings tussen die NWU en sleutel-IKS-belanghebbers. Onder hulle was die universiteite van Limpopo en Venda, die Kantoor van Nasionale Inheemse Kennisstelsels van die DWT, en die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie-Owerheid.

 

As gevolg van die holistiese aard van IKS, is die BIKS-kurrikulum as ’n multidissiplinêre program ontwerp en met kern- sowel as keusemodules in inheemse landbou, gesondheid, kuns en kultuur, en wetenskap en tegnologie.

 

Hierdie NKR-vlak-8-kwalifikasie strek oor vier jaar en het in 2013 begin met die eerste groep van 20 studente van regoor Suid-Afrika.

 

’n Krag om mee rekening te hou

“Die rasionaal agter die BIKS-program was die besef dat plaaslike Afrika-kennis ’n sterk dryfkrag is, nie net in ekonomiese groei nie, maar ook in die strewe na uitnemendheid in die geglobaliseerde kennisekonomie,” sê prof Simeon Materechera, hoof van die IKS-sentrum.

 

Die rol van inheemse kennis in volhoubare ontwikkeling word deur die hele wêreld erken, sê hy, en stem ooreen met die nasionale IKS-beleid (2004) en die IKS-wetsontwerp (2016).

 

“Die BIKS-program word as 'n perfekte teenvoeter beskou vir die onlangse narratiewe en diskoerse oor gedekolonialiseerde onderwys, nie net by hoëronderwysinstellings nie, maar ook in skoolleerplanne,” sê Simeon.

 

Die BIKS-graadprogram se doel is om IKS- en Eurosentriese kennisstelsels te vermeng om kulturele uitruiling te fasiliteer. Dit wil die holistiese probleemoplossingsbenaderings van Afrika en die onderliggende beginsels daarvan as handelsmerk vestig en as lewenswyse aanbied om Afrika se tradisionele waardestelsels te laat geld.

 

Ander doelwitte is om die ekonomiese waarde van IKS in plaaslike gemeenskappe te bevorder en IKS as ’n hulpbron te gebruik om gebalanseerde, lewensvatbare bestaanswyses te ontwikkel, en om IKS in die formele onderwysstelsel te inkorporeer.

 

Presteer bo verwagting

“Met inagneming van die uitdagings wat met die instelling van ’n nuwe akademiese program aan ’n hoëronderwysinstelling gepaardgaan, het die BIKS-program sy doelwitte bereik en ons verwagtings oortref,” sê Simeon.

 

Daar is tans 38 BIKS-studente ingeskryf en 60% van die oorspronklike groep studente het hul grade voltooi. Agt van die 12 gegradueerdes is tans vir ’n meestersgraad in inheemse kennisstelsels (MIKS) ingeskryf, sê hy. “Die NWU erken met dank die finansiële hulp in die vorm van studentebeurse van die Departemente van Wetenskap en Tegnologie en van Kuns en Kultuur.”

 

Die IKS-sentrum het tans nege PhD- en 18 meestersgraadstudente wat navorsing doen op gebiede soos inheemse kulturele astronomie, etno-veeartsenypraktyk, reproduktiewe gesondheid, metallurgie, etno-wiskunde, inheemse landbou, inheemse kuns en kultuur, inheemse lewensvaardighede-opvoeding, inheemse hernubare energie en omgewings- en rampbestuur.

 

 

>

LEES MEER

>