beste kollega,

Boodskap van die

Visekanselier

beweeg af

Die Amerikaanse leraar Rick Warren het beroemd geword danksy sy boek The Purpose-Driven Life (in Afrikaans beskikbaar as Die doelgerigte lewe). Meer as 32 miljoen eksemplare van die boek is reeds verkoop. Verskeie internasionale publikasies, soos die tydskrif Time, het hom al as een van die wêreld se invloedrykste mense bestempel.

 

Sy sentrale boodskap, dat die sin van die lewe nie gevind word deur op jouself te fokus nie, vind by baie mense aanklank. Dit help mense om sin te vind te midde van die lewenstryd.

Ons by die Noordwes-Universiteit is ook verlede jaar met allerlei uitdagings gekonfronteer. Vanjaar sal dit seker weer so wees. Jy het dalk reeds te doen gehad met uitdagings rakende die eerstejaarsinname. Of jy is dalk onseker oor ons nuwe struktuur.

 

Ek het empatie met jou en wil die versekering gee dat ons spoedig in die posisie sal wees om meer inligting te gee oor die ontplooiing van die nuwe struktuur. Dit sal aan almal gekommunikeer word.

 

Terwyl daar bepaalde onsekerhede bestaan, is dit gepas om onsself daaraan te herinner dat ons as ’n universiteit doelgerig werk. Die NWU se doel lees as volg:

“Om te presteer wat betref innoverende leer en onderrig asook baanbrekersnavorsing, om sodoende die gemeenskap deur kennis te dien.”

 

Hoe gaan ons dit bereik? Deur aan te pas by veranderinge en nuwe uitdagings, soos beskryf in ons nuwe strategie en struktuur asook suksesmodel. Indien ons nie verander nie, sal ons agterbly.

 

Ons ding al hoe meer in ’n globale konteks mee. Universiteite het nie die luukse om oorgerus te raak nie – die hoëronderwyssektor is net te mededingend. Ons moet dus aanvaar dat ons nie net met ander Suid-Afrikaanse universiteite meeding nie, maar ook met verskeie plaaslike en buitelandse instellings.

 

Studente het ’n groter keuse as ooit tevore. Skenkers het ’n verskeidenheid van potensiële ontvangers; potensiële vennote kan kies en keur. En om die beste akademiese en professionele personeel te lok, is nie so maklik nie.

 

Verder het die internet en slimfone afstandsonderrig na ’n nuwe vlak geneem. Ons moet die golf ry of agterbly. Ons moet ook sorg dat ons kwalifikasies relevant en van hoë gehalte bly. Dit beteken ons moet deurtentyd aanpas en innoveer. Dit geld natuurlik ook vir ons navorsing en kommersialiseringsprojekte. En ons moet maatskaplike geregtigheid al hoe meer deel van ons universiteitskultuur maak, met ander woorde in ons doen en late as werknemers van die universiteit.

 

Ons het vele take. Daarom is dit belangrik dat ons moet onthou dat ons doel uiteindelik is om die samelewing te dien. Glo my, deur by te dra tot hierdie oorkoepelende doel, sal jy persoonlike sin en bevrediging vind.

 

>

>