KLIK OM MEER TE LEES

beweeg af

REDAKSIONEEL

2017 – ’n skoon bladsy

Dink terug aan jou skooldae. Dis die eerste dag van die nuwe skooljaar. Verbeel jou jy maak 'n splinternuwe boek oop wat jy en jou ma net die vorige aand met bruinpapier en plastiek oorgetrek het. Jou penpunt rus op die boonste lyntjie, reg langs die rooi kantlyn. Jy het 'n splinternuwe bladsy om vol te skryf.

 

Op die drumpel van 2017 het ons as NWU-personeellede ook 'n nuwe bladsy om te vul. Om die waarheid te sê, daar wag heelwat nuwe ervarings – nuwe kollegas, nuwe studente en nuwe verantwoordelikhede.

 

Die implementering van die NWU se nuwe struktuur is 2017 se groot uitdaging. Hierdie proses sal van bo na onder uitgerol word en begin met die aanstelling van adjunk-visekanseliers en uitvoerende dekane op uitvoerende bestuursvlak.

 

Hier by Eish! is daar ook 'n nuwe ontwikkeling. Die gesoute joernaliste wat in die verlede deel van die onderskeie kampusse se bemarking- en kommunikasiedepartemente was, het nou as deel van die nuwe struktuur by ons aangesluit. Baie welkom by ons, julle ouens!

 

Terwyl die span by Eish! die skoon bladsye van hierdie jaar se uitgawes gaan vol skryf, gaan julle as NWU-personeellede julle eie "stories" in 2017 skryf. Oor min of meer 300 dae sal elkeen kan terugkyk na 2017; ook na die verstandige (en soms minder verstandige) woorde en dade wat die jaar opgelewer het.

 

Wat jy ook al vanjaar op jou leë bladsy skryf, doen dit met moed en oorgawe. Maar moet jouself ook nie te ernstig opneem nie. Krabbel en krap so nou en dan. Of maak krulletjies en draaitjies. Skryf onderstebo as die geleentheid hom voordoen. Geniet dit! Onthou daar is net een kans om 2017 se bladsy te vul.

 

Lekker lees.

 

>

>