Die NWU se nuwe direkteur vir korporatiewe kommunikasie, Clement Manoko, is die trotse pa van twee kinders, Clement Jr (24) wat in die advertensiewese is en Tshepo (16) wat in Graad 11 is.

Eish! praat met mnr Clement Manoko, die nuwe uitvoerende direkteur vir korporatiewe kommunikasie in die Institusionele Kantoor. Clement gesels met ons oor sy nuwe rol by die NWU en sy persoonlike belangstellings.

 

“Ek is ʼn mens-mens en in wese ʼn ware aktivis. Ek beskou myself as ʼn sosiaal-demokraat.” sê Clement.

 

Clement is daarvan oortuig dat spanwerk die sleutel tot die verwesenliking van doelwitte is. “Ek is ʼn spanspeler. Ek glo mens kan individuele sterre hê, maar dat sukses nie haalbaar is as hierdie sterre onder mekaar wedywer nie. Hulle energie moet na ʼn gedeelde strewe toe gekanaliseer word.”

 

ʼn Rastafariër in wese

 

Clement Manoko sê hy is ʼn aanhanger van alle goeie musiek, maar hy het die meeste waardering vir reggae en hip hop.

 

“Ek is ʼn Rastafariër in my diepste wese en kan net nie genoeg kry van kunstenaars soos Culture, Bob Marley and the Wailers, Peter Tosh en Burning Spear nie. Reggae spreek tot my, want dit gaan meestal oor maatskaplike geregtigheid, iets waaroor ek passievol is.

 

“Wat hip hop aanbetref, is dit ietwat gekompliseerd, maar ek deel die meeste pyn en ervaringe soos uitgedruk deur my gunsteling-hip hop-sterre, veral dié wat my dogter as outydse ritme-en-poësie-sterre (RAP) beskou, soos Tupac, Dr Dre, Nas, en andere.”

TERUG

met entoesiasme vir spanwerk

Aktivis

Ryk ervaring

 

Hy is gebore in Modjadjiskloof (waar die reënkoningin heers) in die Limpopoprovinsie, en was op kosskool in Polokwane. Dit was tydens sy studies aan die voormalige Universiteit van die Noorde waar sy bewustheid van ʼn behoefte aan maatskaplike geregtigheid en gelykheid vir die mensdom duidelik geword het. “Die universiteit het by my en die meeste van die pre-1994-studente sterk waardes ingeboesem wanneer dit kom by maatskaplike geregtigheid. Dit is waar ek gevorm is tot die man wat ek vandag is.”

 

Sy sosiale aktivisme het voortgespruit uit ʼn sterk wil om nooit deel te wees van enigiets waar mag en posisie as die primêre kwessie beskou word nie. “Ek het ʼn absolute afkeer aan magsmisbruik en bevoorregting. Ek glo werklik dat almal in die samelewing iets betekenisvol het om by te dra in die lewe. Die kosbaarste wyshede wat ek al ooit ervaar het, kom dikwels van mense wat deur ander as ongeletterd of ongeleerd beskou word.”

 

Sy loopbaan het by Unisa begin, gevolg deur periodes by die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR), Government Communication and Information System (GCIS), Investment South Africa, en die Departement van Handel en Nywerheid, ʼn tydperk in sy lewe wat hy besonder koester.

 

Voordat hy in die begin van Augustus by die NWU in diens getree het, het hy vir ʼn tweede keer by die WNNR gewerk.

ʼn Gedeelde visie vir die NWU

 

Clement sien daarna uit dat sy departement, in samewerking met ander strukture van die universiteit, ʼn bydrae lewer om die NWU se drie kampusse in ʼn verenigde universiteit met ʼn gedeelde identiteit te integreer, gerig deur die universiteit se strategie en doelwitte.

 

“Vanuit ʼn handelsmerkperspektief sou ek graag wou sien dat die universiteit in ʼn rigting beweeg waar elke personeellid of student van die NWU wat in die openbaar verskyn onmiddellik met die universiteit geïdentifiseer kan word.”

 

Dit is sy missie om die NWU-handelsmerk verder in die openbare domein bekend te stel. “Ons moet ons nis vind; ons is immers in kompetisie met ander universiteite. Handelsmerkbestuur is natuurlik groter as die logo en die slagspreuk. Dit sluit ook in hoe ons as werknemers van die NWU omgaan met mekaar, met ons belanghebbers en met die gemeenskappe waarin ons werk.”

Hy besef dit gaan harde werk wees, maar vind die uitdaging opwindend. “Ons moet seker maak dat daar kohesie in denke en dade is wat handelsmerkidentiteit betref. Ons moet uiteindelik nie net in Suid-Afrika maklik herkenbaar wees nie, maar oral ter wêreld.”

 

Bemagtiging met kommunikasie

 

Bemagtiging van mense en geleenthede om te groei, sal ʼn beslissende rol speel in die posisionering van ʼn verenigde NWU.

 

Ek glo vas dat dit nie die aantal jare is wat jy by ʼn instansie of maatskappy bestee wat tel nie, maar jou nalatenskap. As my nalatenskap kan wees dat ek spanne tot stand gebring het wat gehelp het om die verenigde NWU tot in ʼn nuwe era van verdere uitnemendheid en sukses te help, sal dit alles die moeite werd wees.”

 

 

klik vir  INTERESSANTE FEITE

>

>