Boodskap van die

visekanselier

BESTE KOLLEGAS,

BEWEEG AF

Dinge op die Mafikengkampus het aansienlik gestabiliseer ná die ongelukkige gebeure van vroeër vanjaar. Sedert die kampus heropen het, kon klasse en ander akademiese aktiwiteite ononderbroke voortgaan. Die akademie kon ook op ons ander twee kampusse sonder voorval vorder. Ons is baie dankbaar hiervoor.

 

As personeel weet julle egter dat ons 'n baie moeilike semester agter die rug het. Terwyl julle hierdie brief lees is daar dalk nog eksamens wat afgelê en vraestelle wat nagesien moet word. Daar lê nog baie werk voor.

 

Die nuwe strategie en herstruktureringsproses het die werkslading ook nog groter gemaak. Ek is ten volle bewus van hierdie feit en spreek graag my diepste waardering uit teenoor diegene wat, ten spyte van ekstra vergaderings en werk aan beplanningsdokumente, steeds ’n hand op ons kernaktiwiteite hou.

 

Ons kan eenvoudig nie bekostig om te laat slaplê in ons universiteit se strewe na voortreflike akademiese uitnemendheid nie; hetsy dit in onderrig-leer of navorsing is.

 

Daarom moedig ek julle graag aan om te bly fokus. Wend julle tyd verstandig aan. Konsentreer op die dinge wat regtig belangrik is. En skep moed uit die feit dat hierdie herstrukturering noodsaaklik is. As ons dit goed doen, sal ons die vrugte daarvan pluk.

 

Soos julle weet word universiteite regoor die wêreld gedwing om, in die lig van die magdom tegnologiese en maatskaplike veranderinge en ekonomiese druk, te herbesin oor die pad vorentoe.

 

Onthou dus: ons is nie die enigste skip op dié onstuimige see nie. Alle hoëronderwys- instansies moet aanvaar dat die internet 'n invloed het op hoe mense leer en dat baksteenuniversiteite lankal nie meer alleenreg op die verspreiding van kennis en die toeken van grade het nie. Boonop plaas verswakte ekonomieë geweldige druk op regerings regoor die wêreld se vermoëns om die ontwikkeling van die hoëronderwyssektor te ondersteun.

 

Ek bly egter positief in die vertroue dat ons ons spesifieke uitdagings suksesvol die hoof sal bied. Ons het nie 'n keuse nie. Die Noordwes-Universiteit is té belangrik in te veel lewens om te misluk. Sukses is ons enigste opsie.

>

>