REDAKSIONELE BOODSKAP

VEERKRAGTIGHEID IS ONS REDDING

BEWEEG AF

Beste kollegas,

 

Hierdie jaar was tot dusver nie maklik nie. Terwyl ons besig is met die tydrowende proses om 'n nuwe struktuur vir die NWU te ontwikkel en implementeer, het ons ook te staan gekom teen studente-onluste, 'n brandende gebou en 'n begroting wat aanhou krimp.

 

Boonop het die gewone lading verantwoordelikhede ook nie verdwyn nie – ons akademici moet steeds vir klasse voorberei, eksamenvraestelle merk en studiegidse skryf, terwyl ondersteuningspersoneel die finansies moet bestuur, studentesake hanteer en seker maak dat ons aan wetlike vereistes voldoen.

 

Sommige van ons kla steen en been oor die ekstra hooi op ons vurke, maar op die ou end sit selfs die knorriges onder ons skouer aan die wiel om die NWU op koers te hou.

Wat maak dat mense aanhou en deurdruk, selfs in teëspoed? Na my mening het dit baie te make met innerlike veerkragtigheid. Ons het hierdie ongelooflike, lewensreddende tendens om te herstel, selfs onder die moeilikste omstandighede.

 

Hierdie uitgawe van Eish! is propvol voorbeelde van hoe ons mense bly vorentoe beweeg, kom wat wil. Julle kan lees hoe MBA-studente presteer en entrepreneurs leer om hul idees te kommersialiseer, terwyl ander 'n studio begin waar mense hoëgehalte opvoedkundige video's kan maak. Om nie eens te praat van sterkman Willem Erasmus wat die hindernisse in sy pad letterlik stormloop en suksesvol oorkom nie.

 

Mense – en NWU-mense in die besonder – hou nooit op om my te verbaas nie. Ons kan almal baie trots wees om deel van so 'n veerkragtige gemeenskap te wees.

 

Lekker lees.

>

>