Dit is 'n massiewe probleem, en minstens 'n deel van die antwoord lê opgesluit in die minuskule.
Kerntegnologie speel 'n deurslaggewende rol op die gebied van voeding, veral deur diagnostiese tegnieke, en nou sal hierdie tegnieke meer nougeset as ooit tevore ingespan word om die gety van wanvoeding te help stuit.
Research, appropriate policy and investments in infrastructure for the elderly will be crucial in preparing for the needs of a growing ageing population.
Rolspelers van regoor Afrika, in vennootskap met die Internasionale Atoomenergieagentskap (IAEA), onderneem 'n vier jaar lange projek om kapasiteit te bou om van stabiele-isotoop-tegnieke gebruik te maak om die mikronutriëntstatus van kinders in Afrika te verbeter. Stabiele isotope is nie-radioaktiewe atome van dieselfde element met dieselfde aantal protone, maar 'n ander aantal neutrone, en kan as doeltreffende, veilige en presiese merkers dien om areas te identifiseer wat wanvoeding beïnvloed.
Die gevolglike program is 'n MSc (meestersgraad) in Voeding met Kerntegnieke. Die IAEA beoog om hierdie kurrikulum in Afrika te implementeer, aangepas deur elke spesifieke Afrika-universiteit in sy eie formaat, maar ook in 'n sekere mate gestandaardiseer.
Die program is reeds in werking, met die NWU in Suid-Afrika wat die hoofgasheer vir Engelssprekende studente is, en Marokko wat gasheer speel vir Franssprekende studente. Ghana, Senegal en Zambië sal die program volgende implementeer, gevolg deur 'n voorgestelde 37 ander Afrikalande.
Prof Linda Malan
Prof Linda Malan van die Sentrum vir Uitnemendheid in Voeding, het gehelp om die kurrikulum vir die MSc in Voeding met Kerntegnieke te ontwikkel.
Sy verduidelik die dilemma wat Afrika in die gesig staar: "Mikronutriënttekorte is baie algemeen in Afrika en is van die belangrikste faktore wat geassosieer word met groeivertraging, morbiditeit, mortaliteit, stadige psigomotoriese ontwikkeling, en swak immuunfunksie by kinders. Mikronutriënttekorte raak ook vroue op 'n vrugbare ouderdom, met beduidende nadelige gevolge vir die voedingspeil en gesondheid van hulle kinders, wat ook hul ontwikkeling en menslike potensiaal inperk.
"Byvoorbeeld, 40% van alle vroue op 'n vrugbare ouderdom in Afrika ly aan bloedarmoede, en ongeveer die helfte van die gevalle is weens 'n ystertekort. Kinders se dieet in Afrika is oorwegend plantgebaseerd, wat dikwels onvoldoende of swak opneembare mikronutriënte, soos yster en sink, verskaf."
Sy wys ook daarop dat plantgebaseerde voedsel natuurlike verbindings (antinutriënte) bevat wat inmeng met die opname van mikronutriënte en dit beperk.
"Dit is dus belangrik om diëte te ontwerp wat die opname van mikronutriënte uit voedsel bevorder. Daar is egter beperkte tegniese kundigheid en laboratoriumkapasiteit in Afrika om die biobeskikbaarheid van mikronutriënte uit voedsel te evalueer en hoe dit verband hou met mikronutriëntstatus in kwesbare groepe soos kinders en swanger en lakterende vroue."
Hierdie nuwe Magister Scientiae – of MSc – program sal help om kapasiteit te bou deur die nodige kurrikulums te ontwerp, gevolg deur die inskrywing en opleiding van studente in die volgende fase van 'n tweejaar akademiese program. Die kurrikulum sal 'n reeks stabiele-isotoop-tegnieke dek, insluitend dié vir die assessering van yster-, sink- en vitamien A-absorpsie.
"Die projek sal deelnemende Afrika-lidlande help om kapasiteit te bou om intervensies te ontwerp en te evalueer om mikronutriënttekorte vir beter gesondheid en ekonomiese ontwikkeling aan te spreek," sê prof Malan.
Met Afrika-universiteite, Verenigde Nasies-agentskappe soos die IAEA en die Wêreldgesondheidsorganisasie, en Afrika-regerings – met inbegrip van ministeries van gesondheid, onderwys, landbou en ander – wat saamwerk, kan die plaag van wanvoeding wat die vasteland teister stelselmatig uitgeroei word.
|