|
"Wat meer is, dit sal 'n beduidende bydrae lewer tot navorsers se strewe om verandering wat 'n impak maak in die lewens van gemeenskappe te bring, aangesien dit waardevolle data vir navorsing en intervensies sal verskaf," sê prof Daryl Balia, adjunkvisekanselier vir inligtingstegnologie en Potchefstroomkampusbedrywighede.
Die simulasielaboratorium, wat die breinkind is van 'n passievolle jong navorser, Neville Robertson, word as die eerste in Suid-Afrika vir sielkunde en maatskaplike werk geloof. Dit beloof om 'n innoverende navorsingskern vir hierdie en ander studiegebiede by die universiteit te wees.
'n Groot sprong vorentoe in die gebruik van tegnologie in sielkunde en maatskaplike werk
Die laboratorium, wat in die navorsingsfokusarea vir Gemeenskap Psigososiale Navorsing (COMPRES) op die Potchefstroomkampus gehuisves word, is indrukwekkend toegerus. Dit het alles van VR-kopstukke en 'n VR-gekoppelde trapmeul, kameras wat beweging vasvang en Loco-sensors tot pasklaar-sagteware om navorsers met data-insameling te help.
Prof Retha Bloem, navorsingsdirekteur van COMPRES, sê die laboratorium het 'n spesiale betekenis vir navorsers wat in gemeenskappe werk, aangesien dit hulle vir werklike toestande en scenario's voorberei. "Ons wil uitdagings aanpak en kyk hoe ons tegnologie kan benut om die Afrika wat ons graag wil hê, te help skep. Ons glo dat ons die eerste universiteit in Suid-Afrika is om 'n gerief met hierdie moderne toerusting te hê. Ons is baie trots daarop en opgewonde daaroor."
"Hierdie laboratorium verteenwoordig nie net 'n sprong in tegnologie nie, maar 'n diepgaande verbintenis tot navorsing, innovasie en die toekoms van sosiale wetenskappe en gesondheidsorg," sê prof Jeanetta du Plessis, adjunkdekaan vir navorsing en innovasie in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe.
Sy verduidelik dat navorsing die fondament is waarop die laboratorium gebou is, en dat dit die sleutel tot die ontsluiting van die volle potensiaal daarvan is. "Dit sal ons deur grondige vraagstelling, eksperimentering en samewerking help om nuwe maniere te kry om geestesgesondheidsorg te verbeter, ons studente doeltreffender op te lei, en om 'n blywende impak te maak op die gemeenskappe wat ons bedien."
Prof Awie Kotze, uitvoerende dekaan van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, sê die laboratorium beklemtoon die NWU se verpligting om tegnologie te omarm, aangesien dit die diep menslike gebiede van sielkunde en maatskaplike werk op 'n hoogs innoverende vlak bereik.
"Vandag is daar 'n betekenisvolle stap vorentoe geneem vir die NWU en die hele landskap van sosiale wetenskappe en gesondheidsorg in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe. Sielkunde en maatskaplike werk was tradisioneel in menslike interaksie gegrond – kommunikasie van aangesig tot aangesig, liggaamstaal en die subtiele kuns van empatie. Namate ons wêreld egter ontwikkel, moet ons benaderings daarmee saam ontwikkel. Digitale tegnologie het ons begrip oor menslike gedrag hervorm, en vir ons nuwe instrumente gegee om individue te bestudeer, vir hulle in te tree en op maniere te ondersteun wat voorheen ondenkbaar was. Die virtuelewerklikheidsimulasie is 'n puik voorbeeld van hierdie ontwikkeling."
|
VR-simulasielaboratorium is 'n droom wat vir 'n jong navorser waar geword het
Die laboratorium is die verwerkliking van 'n droom vir Neville, wat as deel van sy PhD-studies maniere ondersoek het om tegnologie te gebruik om die voorkoms van sielkundige intervensies deur die krag van virtuele werklikheid te verander.
"Ek het besef dat daar geen basis soos hierdie was vir navorsers wat tegnologie op hierdie manier wil gebruik nie. Ek het met prof Bloem, my mentor, gepraat.
"Ons het tot die slotsom gekom dat dit 'n wonderlike geleentheid is om iets tot stand te bring waarby toekomstige navorsers en navorsing ook kan baat."
Neville sê die laboratorium se vernaamste impak is dat dit veral aan nagraadse studente die geleentheid sal gee om virtuelepraktyksessies te ervaar voordat hulle hulle op die gebied van werklike situasies en intervensies sal waag.
"Ons kan hierdeur leer deur ervaring vir studente meer toeganklik maak."
Hy voorsien dat nie slegs sielkunde- en maatskaplike werk-studente gebruikers van die laboratorium sal wees nie.
"Dit is 'n wonderlike geleentheid vir byvoorbeeld farmasie-studente wat wil ervaar hoe dit is om met chemiese stowwe te werk voordat hulle dit in werklikheid doen, vir verpleegkunde-studente wat vertroud wil raak met die verskillende aspekte van hospitale, of vir ingenieurswese-studente wat byvoorbeeld 'n fabriek wil besoek."
"Die moontlikhede is eindeloos," sluit hy af.
Vir meer inligting oor die VR-simulasielaboratorium, of om 'n sessie te bespreek, kontak vir Neville by 25102273@mynwu.ac.za.
|