facebook youtube facebook twitter Navorsing@NWU Junie 2024
R

ooibostee, wat inheems aan Suid-Afrika is, is 'n beduidende deel van die land se kulturele tapisserie en bied vele geleenthede vir toerisme.

Deur op rooibos te konsentreer – van die kweek daarvan tot by sy diep kulturele en geskiedkundige wortels – kan die egtheid van die ervaring vir toeriste uitgebrei word.

Rooibostee is 'n buitengewone Suid-Afrikaanse produk wat die wêreldmark se aandag vasgevang het en al meer as 30 lande bereik het. Die gewildheid daarvan neem toe as gevolg van die gesondheids- en welstandseienskappe daarvan.

Jy het nie die Mad Hatter nodig wat 'n koppie tee met Alice onder in Wonderland deel om 'n paar dinge oor tee – soos dat 'n stomende koppie tee jou gemoed kan kalmeer – te weet nie. Soos prof Martinette Kruger van die NWU egter verduidelik – Suid-Afrika se inheemse tee doen dit alles, en nog meer: "Rooibostee is meer as net 'n drankie, dit is 'n kultuurskat."

Meer as net tee

Prof Kruger, wat deel is van die navorsingseenheid Toerismenavorsing in Ekonomie, die Omgewing en die Samelewing (TREES), is tans in samewerking met Curtin Universiteit (Perth, Australië) besig met navorsing wat die talle toerismemoontlikhede wat rooibostee inhou, ondersoek en ontwikkel. Die studie is ontwerp om die aanbod- sowel as die vraagkant van die rooibostoerismesektor te ondersoek, en ook om die bedryf se uitdagings en geleenthede te identifiseer.

"Rooibostee is 'n beduidende deel van Suid-Afrika se kulturele tapisserie omdat dit inheems is aan ons nasie en hoofsaaklik gedy in die Sederbergreeks – 'n deel van die Kaapse Blommestreek wat wêreldwyd erken word," sê prof Kruger.

"Hierdie gebied, 'n UNESCO-wêrelderfenisterrein en een van die wêreld se sensitiewe kerngebiede vir biodiversiteit, is die tuiste van die unieke rooibostee. Die Europese Unie het in 'n mylpaalerkenning in 2021 aan rooibostee die gesogte status van beskermde benaming van oorsprong (Protected Designation of Origin) toegeken. Dit is die eerste produk uit Afrika wat so 'n erkenning ontvang. Die benaming verseker nie net die Suid-Afrikaanse oorsprong van rooibos nie, maar vier ook ons ryk landbou-erfenis, wat rooibostee 'n belangrike trekpleister vir internasionale toeriste maak," voeg sy by.

"Rooibos is meer as bloot 'n tee – dit is die poort na die ervaring van Suid-Afrika se unieke flora en fauna, wat deur sy vuurafhanklike ekologie en fassinerende geologiese geskiedenis gevorm word. Die streek self – bekend vir sy asemrowende landskappe, argeologiese rykdom en kenmerkende biologiese diversiteit – bied geweldige potensiaal vir eko- en avontuurtoerisme."

Ontdek moontlikhede vir toerisme

Twee beduidende mylpale wat as basis dien vir die uitbreiding van rooibostee as lokmiddel vir toeriste, is die ontstaan van die Rooibos-roete in 2017 (hoewel hierdie onderneming die afgelope jare gestagneer het), en die toegang- en voordeel-ooreenkoms (Access and Benefit-sharing (ABS) agreement) van 2019, wat verseker het dat die inheemse Khoi-Khoi- en San-gemeenskappe billike voordele uit die kommersiële gebruik van rooibos ontvang. Dan is daar ook die gewildheid van die streek waar rooibos sy tuiste het.

"Die Sederbergstreek – 'n gewilde bestemming wat jaarliks meer as 70 000 besoekers lok – bied 'n wonderlike geleentheid vir volhoubare ontwikkeling deur teetoerisme, veral wanneer daar op ons inheemse rooibos gefokus word. Die meeste van die streek se 57 000 inwoners woon in landelike gebiede, en toerisme is 'n kritieke deel van hulle heenkome, aangesien dit meer as die helfte van hulle netto inkomste lewer. Deur teetoerisme te integreer, kyk ons na die skepping van 'n eiesoortige, kultuurryke toerisme-ervaring wat bestaande landboupraktyke en die streek se natuurlike skoonheid benut," verduidelik sy.

Dan is daar die produk se reikwydte: "Rooibostee is 'n buitengewone Suid-Afrikaanse produk wat die wêreldmark se aandag vasgevang het en al meer as 30 lande bereik het. Dit word geloof vir sy eiesoortige smaak, talle gesondheidsvoordele en kaffeïenvrye eienskappe. Rooibos is al met sukses by verskeie produkte geïntegreer – van kosmetiekware tot geursels vir voedsel. Hierdie veelsydigheid is een van die redes waarom dit as 'n gesondheidsproduk so aantreklik is.

"Voorts is die rooibosbedryf 'n noodsaaklike deel van ons ekonomie en ondersteun meer as 5 000 broodwinners. Om rooibos by Suid-Afrika se toerisme-aanbiedings te integreer, is 'n opwindende geleentheid om kultuurerfenis en ekonomiese ontwikkeling te kombineer. Deur rooibos as 'n unieke element van ons nasionale identiteit te benut, kan ons toerisme-ervarings met vele fasette skep wat 'n invloed op 'n wêreldskaal kan uitoefen."

immagine1

Prof Martinette Kruger

'n Hoeksteen van welstandstoerisme

Prof Kruger sê verder dat as 'n mens na die toenemende gewildheid van rooibos en die groter wêreldwye belangstelling in gesondheid en welstand kyk, rooibos perfek geposisioneer is om 'n hoeksteen van Suid-Afrika se welstandstandstoerisme te wees. Deur rooibosverwante roetes te vestig, asook om tee-kafees en opvoedkundige toere by die toerismepakket in te sluit, kan die toerismesektor die hele reis van rooibostee uitstal.

"Ons wil die proses vanaf die plant tot by die koppie vertoon. Ons beplan voorts om die handelsmerk van geografiese aanduiding (Geographical Indication, GI) en naam van oorsprong (Designation of Origin, DO) te gebruik om rooibos doeltreffender te bemark," sê sy.

"Hierdie etikette verbind die gehalte en reputasie van rooibos direk met sy Suid-Afrikaanse wortels. Sulke strategieë was al in ander kontekste, soos wyntoerisme, geslaagd. Rooibostee is 'n geliefde drankie en 'n simbool van Suid-Afrikaanse erfenis en biodiversiteit.

"Ons navorsing is gerig op die ondersoek van die volle potensiaal van rooibostee en streef daarna om ons streek se toerisme-aanbiedings te bevorder en dit te onderskei. Deur op rooibos te fokus, bevorder ons nie net 'n produk nie, maar ons vier ook 'n ryk kultuurerfenis.

"Hierdie poging handel oor die skepping van ervarings waarby plaaslike mense sowel as besoekers aanklank kan vind, en toon die kulturele en ekonomiese belangrikheid wat rooibostee vir ons nasie het."

immagine1

Nou is dit teetyd.