Desember 2023

facebook
youtube
facebook
twitter
email
More research news
Terug
Volgende

UNESCO-leerstoel sit sy reis voort op sy pad
om deure vir onderwys oop te maak

'n Sleutelagentskap van die Verenigde Nasies het sy vertroue in die NWU getoon deur die leerstoel oor Multimodale Leer en Oop Opvoedkundige Hulpbronne vir 'n tweede termyn van vier jaar in te stel.

Die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kultuurorganisasie (UNESCO) het die NWU se voorlegging goedgekeur vir 'n hernuwing van die leerstoel, wat aanvanklik in 2019 aan die universiteit toegeken is. Die leerstoel is in Junie weer bekendgestel.


Prof Dorothy Laubscher

"Die hernuwing toon dat die NWU erken word as 'n leier in die bevordering van multimodale leer en navorsing in oop opvoedkundige hulpbronne (OOH's)," sê die leerstoelbekleër, prof Dorothy Laubscher, medeprofessor in wiskunde.

Sy het oorgeneem by prof Jako Olivier, wat instrumenteel was in die stigting van die leerstoel by die NWU, en verlede jaar die diens van die universiteit vir 'n pos by die Commonwealth of Learning in Kanada verlaat het.

Die leerstoel se eerste termyn het in November 2022 verstryk en die hernuwingsaansoek is ingedien en daarna goedgekeur.

Prof Laubscher sê toegang tot gratis opvoedkundige hulpbronne van goeie gehalte is noodsaaklik vir studentesukses.

Sulke hulpbronne is veral belangrik vir Suid-Afrika en ander lande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap, waar leermateriaal van 'n goeie gehalte nie altyd geredelik beskikbaar is nie.

Die leerstoel help om deure vir die onderwys oop te maak deur te fokus op multimodale leer en die multigeletterdhede wat nodig is vir kultureel-toepaslike en doeltreffende leer binne 'n omgewing wat vir selfgerigte leer en OOH's gunstig is .

"Dit is deel van ons verbintenis om toeganklike, relevante onderrig en leer van 'n hoë gehalte te fasiliteer," sê sy, en voeg by dat die NWU se sterk punte op die OOH-gebied lê deur leer van aangesig tot aangesig en e-leer-metodes saam aan te wend.

Talle geleenthede gaan vir die NWU oop

Prof Laubscher sê die bevordering van multimodale en selfgerigte leer is belangrik in die NWU se onderrig- en leer-strategie en open nuwe deure vir die NWU self.

"Ons is opgewonde oor die geleenthede wat 'n tweede termyn bring. Dit sluit tans in dat ons saam met die UNESCO-leerstoel oor verpersoonlikte en aanpassingsleer (UNESCO Chair on Personalised and Adaptive Learning) van die Switserse Afstandsuniversiteit van Toegepaste Wetenskappe aan 'n navorsingsprojek oor selfassessering en multimodaliteit werk.

"Ons vorm voorts ook netwerke saam met ander plaaslike en internasionale OOH UNESCO-leerstoelbekleërs. Ek het namens die NWU-leerstoel oor Multimodale Leer en Oop Opvoedkundige Hulpbronne 'n werkswinkel vir die Siyaphumelela-netwerk aangebied, te wete 'Establishing an OER Fellowship at Higher Education Institutions', en ook 'n aanbieding genaamd 'Renewable Assessment as an Open Educational Resource' gelewer by die NWU se Oop Toegang-week wat op die Vanderbijlparkkampus gehou is."

Prof Laubscher sê ander belangrike projekte sluit die voltooiing hulle projek oor OOH-genote in, en noem dat daar planne is om die OOH-genoteprojek volgende jaar uit te brei. Die leerstoel sal ook die navorsing oor selfgerigte oop opvoedkundige praktyke by die NWU uitbrei om selfgerigte leer te bevorder onder onderwysers en studente wat vir onderwyskursusse in opvoedkunde ingeskryf het. Hulle sien ook daarna uit om in 2024 saam aan die AOSIS-boekpublikasie met die titel Open Educational Practices and Digital Innovation: Empowering self-directed learners te werk.

Hoe die leerstoel werk

Die leerstoel en sy uitvoerende komitee werk nou saam met die navorsers binne die NWU se navorsingseenheid vir Selfgerigte Leer en ander verwante UNESCO-leerstoele.

Hulle fokus is om netwerke rondom OOH en multimodale leer in Suider-Afrika te vorm en kapasiteit by die NWU en in Suider-Afrika te bou. Die leerstoel sal ook akademiese kundigheid onder personeel van multimodale leer en die skepping en gebruik van OOH's ontwikkel, asook navorsing oor OOH en multimodale leer doen.

"Ons fokus op multimodale leer waar tegnologie 'n belangrike rol speel," sê prof Laubscher. "Ons het baie werk gedoen om die gebruik van tegnologie in onderwys vir professionele persone en studente te fasiliteer – veral in hoër onderwys, maar ook in sekondêre onderwys.

"OOH's kan help om die gaping te vul waar hoëronderwysinstellings en skole nie goeie hulpbronne het nie. Daar kan met min of geen koste nie op enige plek en enige tyd toegang tot OOH's verkry word en dit kan bestaande klasmateriaal aanvul," voeg sy by.

"Dit is 'n groot eer om met UNESCO saam te werk. Ons sien daarna uit om nuwe horisonne te verken en om die weg vir nog ontwikkelings in multimodale leer en OOH's te baan. Baie dankie aan die NWU-bestuur vir die ongelooflike ondersteuning wat hulle verleen om die werk van die leerstoel te laat voortgaan."

Prof Bismark Tyobeka, hoof en visekanselier, prof Robert Balfour, adjunk-visekanselier vir onderrig en leer, en prof Dorothy Laubscher, leerstoelbekleër van die UNESCO-leerstoel oor Multimodale Leer en Oop Opvoedkundige Hulpbronne, tydens die amptelike bekendstelling van die tweede termyn van die leerstoel in Junie.