Julie 2023

facebook
twitter
youtube
email
More research news
Terug
Volgende

Studie ondersoek die gebruik van medisinale plante om kindersiektes te behandel


Dr Tshepiso Ndhlovu

Dr Tshepiso Ndhlovu, 'n PhD-gegradueerde van die NWU, het belowende navorsing voltooi oor die gebruik van medisinale plante om kinders se siektes te behandel.

Siektes onder kinders lewer wêreldwyd 'n groot bydrae tot die sterftesyfer van kinders, en die hoë koste van konvensionele behandeling vererger die probleem deur 'n finansiële las op landelike bevolkings te plaas.

Suid-Afrika, met sy hoë armoede- en werkloosheidskoers, veral in die landelike streke, ervaar dit ook so. Plante word steeds in hierdie landelike samelewings vir terapeutiese doeleindes gebruik, aangesien inheemse bevolkings van natuurlike hulpbronne soos plante vir medisyne, voedsel en kosmetiekware afhanklik is. Die potensiaal van tradisionele medisyne vir die behandeling van pediatriese siektes is egter nog steeds onontgin.

Die doel van die studie was om te ondersoek watter medisinale plante gebruik word om siektes by kinders te genees, asook om by te dra tot die kennis en voorraad van inheemse kennishouers (IKH's) en kruieverkopers in Suid-Afrika se Noordwes provinsie.

Dr Ndhlovu sê die studie het 'n omvattende inventaris van medisinale plante en inheemse kennis opgelewer wat met kinders se gesondheidsorg in die gebied verband hou.

"Verdere navorsing is egter nodig om die fitochemiese profiele, antibakteriese aktiwiteit en veiligheidskwellinge met betrekking tot hierdie plante te ondersoek. Die resultate van die studie beklemtoon die ekonomiese potensiaal van medisinale plante in Noordwes. Met behulp van toereikende studie en ontwikkeling kan laekostegoedere uit hierdie plante vervaardig word en so die sosio-ekonomiese lewens van die bevolking in die provinsie verbeter," sê hy.

Hoewel die toekomsmoontlikhede van medisinale plante wat gebruik word om kindersiektes te behandel goed is, word koördinasie onder diverse belanghebbers vereis. "Die navorsing stel voor dat hierdie medisinale plante geproduseer en bevorder moet word as deel van 'n aksieplan van deelnemende bestuur om die voordele daarvan te maksimaliseer. Dié strategie kan die ekonomie van Suid-Afrika se minderbevoorregte gemeenskappe in Noordwes 'n hupstoot gee," voeg dr Ndhlovu by.

In die lig van die belangrikheid van die studieresultate meen hy dat 'n samewerkende navorsingsraamwerk vir die inklusiewe transformasie van inheemse medisinale plante gevestig moet word. Hierdie raamwerk sal die voordelige eienskappe van hierdie plante kan kategoriseer en interpreteer tot voordeel van die mens, veral diegene wat in die streek van die navorsing woon. Dr Ndhlovu se navorsing oor die belofte wat medisinale plante inhou om die lewens van die inwoners van die provinsie te verander, kan gerealiseer word deur gesamentlike pogings en 'n beklemtoning van inklusiewe navorsing.