Junie 2023

facebook
twitter
youtube
email
More research news
Terug
Volgende

Professor se wye fokus lei tot internasionale samewerkings en suksesvolle NNS-gradering


Prof Elias Munapo

Prof Elias Munapo van die NWU is 'n Nasionale Navorsingstigting- (NNS-) gegradeerde navorser – nie 'n maklike prestasie vir akademici met groot onderrig- en studieleiersverpligtinge nie.

Sy navorsingsbelangstellings is die gebruik van wiskunde en statistiek in besigheid. Hy het in 2022 sy eerste C3-gradering as navorser verkry. Hy het in 2016 by die NWU aangesluit en voel dat die pad na 'n NNS-gradering 'n omstrede onderwerp is wat deur 'n akademikus se voorkeure bepaal word.

Een opsie is om eers vir 'n NNS-gradering aansoek te doen en dan 'n medeprofessor en daarna 'n volle professor te word. Die ander roete is om 'n medeprofessor en dan 'n volle professor te word, en daarna aan 'n NNS-gradering te werk. Hy het laasgenoemde opsie gekies en dit het vir hom gewerk.

Volgens prof Munapo is 'n persoon se navorsingsuitset en aktiwiteite die belangrikste, hoewel 'n gradering voordelig is.

"Kundigheidsgebiede is nie dieselfde nie, en sommige navorsingsgebiede is moeiliker as ander, wat dit uitdagend maak om die huidige NNS-graderingstelsel te gebruik om gegradeerde navorsers van verskillende gebiede met mekaar te vergelyk. Ek is baie bly dat ek die NNS-gradering ontvang het. Ek wil graag kollegas in die skaarsvaardigheidsgroep van wiskunde en statistiek aanmoedig om die beste van die twee roetes te kies en vir hulle NNS-aansoeke te begin beplan," sê hy.

Prof Munapo het in April hierdie jaar die internasionale konferensie oor optimalisering (International Conference on Optimization, ICO) 2023 in Thailand as organiseerder en aanbieder bygewoon, en hy het daar die Excellent Contributor-toekenning ontvang. Hy en lede van die NWU se vakgroep Statistiek berei voor om as gashere vir die ICO 2026-konferensie in Johannesburg op te tree.

Meer oor die navorser

Prof Munapo is in die landelike ooste van Zimbabwe gebore en hy het sy laer- en hoërskoolopvoeding daar ontvang voordat hy die Goromonzi High School naby Harare vir sy gevorderdevlak-sekondêreskoolopvoeding bygewoon het.

Hy het 'n BSc-, 'n MSc- en PhD-graad, alles in Zimbabwe verwerf. Prof Munapo se MSc-program het 10 verpligte modules en 'n tesis behels. Dit was op daardie tydstip besonder uitdagend om 'n PhD in Zimbabwe te verwerf, aangesien artikels in betroubare vaktydskrifte gepubliseer moes word voordat dit vir doktorale werk ingedien kon word. Nadat hy die tesiseksamenproses geslaag het, moes hy eienaarskap van die doktorale tesis bewys en dit verdedig.

Prof Munapo se navorsingsterkte lê in die feit dat die 10 verpligte modules van sy meestersgraadprogram aan hom 'n wye area verleen het waaruit hy kon publiseer, en hy kon die verskillende gebiede in sy navorsingsartikels met mekaar verbind. Hoewel 'n breë navorsingsfokusarea gewoonlik as 'n nadeel vir 'n NNS-gradering beskou word, beskou prof Munapo dit as 'n voordeel, aangesien hy op 'n internasionale vlak met navorsers op verskeie gebiede kon saamwerk. Hy het meer as 110 artikels gepubliseer en verwag om teen die einde van sy loopbaan meer as 400 gepubliseer te kry.

Hy is ook die gasredakteur vir twee geakkrediteerde vaktydskrifte van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding, naamlik Applied Sciences en Algorithms.

Vir meer inligting oor sy navorsing, kontak asseblief vir prof Munapo.