Junie 2023

facebook
twitter
youtube
email
More research news
Terug
Volgende
socialmedia

Groot toekenning bevorder samewerkende navorsing
in die Geesteswetenskappe

Twee navorsers van die NWU het 'n spesiale toekenning ontvang wat hulle samewerkende navorsing nasionaal en internasionaal 'n hupstoot sal gee.

Dr Yolandi Coetser en dr Laura Phillips, navorsers by die Maatskaplike Transformasie-navorsingsfokusarea van die NWU, het elkeen feitlik 'n miljoen rand se befondsing by die Katalitiese Navorsingsprogram van die Nasionale Instituut vir Geestes- en Sosiale Wetenskappe vir hul projekte ontvang. Hulle projekte is onderskeidelik getiteld "Southern African Society for Environmental Philosophy" en "Currency, Colonial Economies, and the Making of the South African State".

Die doel van die Katalitiese Navorsingsprogram is om samewerkende navorsing te bevorder wat op bestaande kennis gegrond is. Een van die vernaamste vereistes is dat projekleiers met nasionale en internasionale navorsers op hulle gebied moet saamwerk.


Dr Yolandi Coetser

Dr Yolandi Coetser, 'n senior lektor in die Skool vir Filosofie, sê haar projek is filosofies sowel as interdissiplinêr van aard. "Filosowe benader kwessies vanuit verskillende hoeke. Dit sluit in dat wetenskaplikes se werk, soos omgewingswetenskaplikes in hierdie geval, gelees word."

Sy sê om te verstaan wat die werklikheid is, help filosowe om vanuit 'n ingeligte posisie krities oor die werklikheid na te dink.

Dr Coetser sê die reikwydte van haar projek is wyer as bloot filosofie, aangesien dit veelvuldige studiegebiede kombineer. Sy hoop om akademici van ander dissiplines by die projek in te sluit. "Omgewingsfilosofie vereis dat omgewingsfilosowe 'n omvattende begrip van die omgewing moet hê deur met die omgewingswetenskaplikes saam te werk."

Sy verduidelik dat die doelwitte van die "Southern African Society for Environmental Philosophy"-projek ook moet ooreenstem met die volhoubare-ontwikkelingsdoelwitte soos dit deur die Verenigde Nasies beskryf word. Dit sluit Volhoubare Ontwikkelingsdoelwit 4 (gehalte-onderwys), 5 (geslagsgelykheid), 10 (verminderde ongelykhede) en 13 (klimaataksie) in.

Volgens dr Coetser is daar tans geen formele vereniging in Suid-Afrika of in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap-streek wat aan omgewingsfilosofie gewy word nie.

"Deur filosofies te dink, is dit moontlik om komplekse kwessies te ontrafel, wat op sy beurt daartoe lei dat duideliker beleide opgestel kan word. Filosowe is nogal uniek geskik om oor kwessies na te dink vanuit unieke perspektiewe wat dikwels byvoorbeeld nie die vertrekpunt van 'n bepaalde wetenskap is nie, wat ruimte laat vir 'n meer holistiese benadering van die probleme wat as gevolg van omgewingsprobleme bestaan."

Dr Coetser sê hulle doelwit is om 'n vereniging te skep wat aan omgewingsfilosofie in Suid-Afrika gewy word. Sy glo dit sal help om 'n meer gestruktureerde omgewing vir bespreking en die ondersoek van omgewingskwessies onder filosowe in Suider-Afrika te skep. Sy beplan om vroeg in 2024 'n akademiese konferensie aan te bied wat die skryf van artikels vir 'n spesiale vaktydskrifuitgawe, met 'n fokus op nagraadse ondersteuning en leiding, tot gevolg sal hê, asook vir 'n mentorskapprogram wat ná die konferensie aangebied sal word.

Vir meer inligting, stuur asseblief 'n e-pos aan dr Coetser:email

Dr Laura Phillips

Dr Laura Phillips, senior lektor in geskiedenis by die Skool vir Sosiale Wetenskappe, lei die navorsingsprojek genaamd "Currency, Colonial Economies, and the Making of the South African State". Sy word in hierdie samewerkende projek deur prof Tinashe Nyamunda en dr Abraham Mlombo, kollegas van die Universiteit van Pretoria, bygestaan.

Die projek ondersoek hoe die skep van valuta in Suid-Afrika se vier kolonies die totstandkoming van die Suid-Afrikaanse staat gevorm het.

Die toekenning van die Nasionale Instituut vir Geesteswetenskappe se Katalitiese Navorsingsprogram ondersteun die ontwikkeling van 'n netwerk van Suider-Afrikaanse geskiedkundiges oor die ekonomie en sal ook vir twee meestersgraadbeurse voorsiening maak.

"Terwyl die Suid-Afrikaanse ekonomiese geskiedenis jare lank dormant was, bied hierdie projek die moontlikheid om vakkundige debatte oor kapitalisme in Suid-Afrika te laat herleef."

Dr Phillips sê met 'n grondige ondersoek van argiefmateriaal in Suid-Afrika en buite sy grense, sal die navorsing nuwe insigte in die geskiedkundige prosesse bied wat eietydse Suid-Afrikaanse stelsels onderlê wat die basis van waarde en wisselkoersberekening vorm.

"Met hierdie nuwe inligting kan ons begin om die land se huidige ekonomiese landskap en hoe dit tot stand gekom het, te verstaan."

Vir meer inligting, stuur asseblief 'n e-pos aan dr Phillips:email