Oktober 2022

NWU bevorder uitnemendheid deur navorsing

Welkom by die sesde uitgawe van die Noordwes-Universiteit se nuusbrief, Navorsing@NWU.

Munisipaliteite moet die belangrikheid van vullissmouse erken

Meer as 100 000 mense in Suid-Afrika begin om die vullissmoussektor as bron van werk te gebruik.

Dit is volgens Nonhlanhla Ngcobo, 'n PhD-student en navorser by die Suid-Afrikaanse navorsingsleerstoel in stede, die reg en omgewingsvolhoubaarheid (Cities, Law and Environmental Sustainability) by die Fakulteit Regte op die NWU se Potchefstroomkampus.

"Die stadige ekonomiese groeikoers in Suid-Afrika bring nie hoop vir die 31% van die bevolking wat tans werkloos is nie, veral nie vir diegene met 'n baie lae opvoedingspeil en min vaardighede nie," sê sy.

Dit is waarom baie mense begin het om met afval te smous, wat 'n belangrike deel van die informele ekonomie geword het.

Navorsing oor die grondwetlike regsposisie van vullissmouse

Die doel van haar artikel was om die huidige regs- en beleidsraamwerk oor vasteafvalbestuur op plaaslikeregeringsvlak te ondersoek.

Nonhlanhla het die onderwerp spesifiek vanuit 'n grondwetlike regsperspektief beskou en gefokus op die afvalsmoussektor as 'n geldige rolspeler in die beskerming van die omgewing en die groei van die informele ekonomie.

Sy het die omvang geëvalueer waartoe die munisipale regulasies en die afvalbestuurs-planne van die Stad Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit en die Stad Kaapstad Metropolitaanse Munisipaliteit die voorskrifte van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 navolg.

Haar gevolgtrekking was dat vullissmouse 'n enorme bydrae lewer wat dikwels uit die oog verloor word.

immagine1

Nonhlanhla Ngcobo

Vullissmouse word misgekyk in munisipale beleid en die reg

"Benewens werkskepping lewer hierdie sektor ook 'n bydrae tot die beskerming van die omgewing deur die doeltreffende funksionering van omgewingsafvalbestuur in Suid-Afrikaanse munisipaliteite te verseker, en deur hulle jaarliks waarskynlik minstens R750 miljoen aan stortingsterreinruimte te bespaar.

"Ten spyte hiervan word die pogings van vullissmouse nie in die beleid en wetgewing oor plaaslike regering erken nie," sê Nonhlanhla.

Sy redeneer in die artikel dat die regte van vullissmouse en die pligte van die plaaslike regering wat in die Grondwet vervat word, deur munisipaliteite gebruik moet word om hulle beleid oor afvalbestuur te rig en te verseker dat vullissmouse by hulle afvalbestuurstrategieë ingesluit word.

"Plaaslike regerings kan nie bekostig om die bydrae van vullissmouse as belangrike rolspelers in die beskerming van die omgewing en as bydraers tot die groei van die informele ekonomie te ontken nie," sluit Nonhlanhla af.

 TERUG:
Nanotegnologie vir voedselsekerheid
en omgewingsbeskerming
 NEXT:
Teologie-professor maak vordering met
broodnodige diskoers oor kontekstualisering
facebook
twitter
youtube
More research news

Deel asseblief jou kommentaar en insette deur 'n e-pos aan die nuusbriefredakteur, willie.duplessis@nwu.ac.za te stuur.