Omvattende navorsing lewer bruikbare resultate
Die studies het veelvuldige sektore gedek, onder andere chemikalieë, finansiële dienste, versekering, bemarking, mynbou, telekommunikasie en hoër onderwys, asook ondernemings in staatsbesit en nasionale, provinsiale, en plaaslikeregeringsdepartemente.
"Om in staat te wees om toegepaste navorsing op sulke omvattende gebiede te doen, het ons gehelp om 'n algemeen toepasbare, praktykgerigte benadering tot daaglikse organisatoriese risikowerk te ontwikkel. Ons gebruik die term 'risikowerk' eerder as 'risikobestuur', soos dit deur die invloedryke navorser prof Michael Power van die Londense Skool vir Ekonomie in sy 2016-boek RiskWork, beskryf word," verduidelik prof Zaaiman.
Sy sê prof Power is 'n voorstander daarvan dat organisasiebelanghebbers en navorsers wegbeweeg daarvan om te fokus op die ontleding van die oorsake en impak van onlangse rampspoedige risikogebeure om te probeer om organisatoriese risikobestuur te verbeter. Hy beveel aan dat meer aandag liewer geskenk moet word aan hoe belanghebbers risiko as 'n integrale deel van hulle daaglikse werk beskou.
Prof Zaaiman verduidelik dat 'n risikowerkbenadering alle navorsers in staat stel om te ondersoek hoe organisasiebelanghebbers besluite neem wat uiteindelik die entiteit se bereidwilligheid bepaal om risiko-insidente te vermy en te bestuur.
"Organisasieleiers moet deurlopend risikoverwante besluite in veranderende komplekse omgewings neem. Organisasiebelanghebbers moet dus die geleenthede en beperkings verstaan wat verband hou met die insluiting van risiko wanneer besluite geneem word."
Daarbenewens volg die span se navorsing 'n gedragsbenadering om te verstaan hoe mense onseker gebeurtenisse beskou wanneer hulle besluite neem. "Ons bou dus ook op die groot korpus van kennis oor inherente menslike vooroordele en kortpaaie in denkprosesse, of heuristiek, om die gebruik van besluitnemingsinstrumente te ondersoek om sulke vooroordele te versag. Ons bestudeer byvoorbeeld die implementering van voorafontleding om senior besluitnemers te help om onsekerheid by hulle besluitnemingsprosesse in te sluit.
"In teenstelling met 'n nabetragting oor 'n inisiatief wat misluk het, stel 'n voorafontledings-oefening organisasieleiers in staat om die mislukking van 'n inisiatief te voorsien voordat dit plaasvind. Hierdie proses dien twee doelwitte, naamlik om te identifiseer wat moontlik verkeerd kan loop en om vir sulke negatiewe gebeurtenisse voor te berei voordat hulle besluit om met die projek voort te gaan. Hierdie opwindende en relevante navorsing stel ons in staat om organisasieleiers te adviseer oor die optimalisering van hulle risikoverwante pogings, en ons verwelkom enige navorsingsgerigte navrae," sê prof Zaaiman.
Prof Hermien Zaaiman is 'n medeprofessor in toegepaste risikobestuur by die Skool vir Ekonomiese Wetenskappe in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, en kan gekontak word via
die Optentia navorsingsprogram of die Sentrum vir Toegepaste Risikobestuur.
|