Augustus 2022

NWU produseer navorsing wat saak maak

Welkom by die vyfde uitgawe van die Noordwes-Universiteit se nuusbrief, Navorsing@NWU.

Plaaslike energie-oplossings is die beste vir Afrika

Plaaslike oplossings vir die energiekrisis in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskapslande (SAOG-lande) is nodig, sê dr Pamelah Cheuka, 'n spesialis in ekonomie wie se PhD-tesis op die energie-uitdagings van die streek gefokus het.

Dr Cheuka se onlangse studie oor die impak van energiedoeltreffendheid en die opwekking van hernubare energie op produktiwiteit in die SAOG het die potensiaal om beleidsvorming oor energie te beïnvloed, veral in hierdie tye van klimaatsverandering.

"Hierdie studie is geïnspireer deur my belangstelling in die interaksie tussen klimaatsverandering en die ekonomie in ontwikkelende lande. Ontwikkelende lande byt die spit af van die wêreldwye energiekrisis.

"Aangesien die ekonomiese eienskappe van die SAOG verskil van dié van ontwikkelde en opkomende lande, is die moeilik om beleidsdoelwitte te ontwikkel wat op bewyse van ontwikkelde en opkomende lande gebaseer is."

Die studie is gedoen vir haar PhD-tesis in ekonomie, wat tydens die NWU se gradeplegtigheid van Mei 2022 aan haar toegeken is.

Dr Cheuka het begin deur 'n oorsig te gee van die ontwikkeling van hernubare energie en energie-doeltreffendheidsmaatreëls in die SAOG-streek. Daarna het sy gepoog om die verwantskap tussen energie-doeltreffendheid en produktiwiteit in geselekteerde SAOG-lande te ontleed, die verwantskap tussen die opwekking van hernubare energie en produktiwiteit in hierdie lande te ondersoek, en om beleidsaanbevelings te maak.

Haar navorsing het gelei tot die aanbeveling dat regerings die struikelblokke wat energiedoeltreffendheidsinisiatiewe in die wiele ry, moet hanteer, en beleide implementeer wat gemik is op die opwekking van hernubare energie om aan die toenemende vraag na energie te voldoen.

Dr Cheuka sê dat die SAOG-lande se energie ondoeltreffend is en dat die opwekking van hernubare energie op die lang termyn 'n beduidende en positiewe impak op produktiwiteit het.

Sy wil deur haar navorsing 'n positiewe impak maak.

"Ek wou nog altyd navorsing doen wat 'n bydrae tot beleidmakers se besluite in ontwikkelende lande kan lewer."

immagine1

Dr Pamelah Cheuka

Dr Cheuka is in Mutare, Zimbabwe gebore. Sy het haar hoërskoolloopbaan in 2001 voltooi en in 2005 haar honneursgraad in ekonomie aan die Universiteit van Zimbabwe verwerf. Sy het in 2014 haar MSc-graad in ekonomie (internasionale handelsbeleid en handelsreg) aan die Lund Universiteit in Swede verwerf, deur die Handelsbeleid-opleiding-sentrum wat in Arusha, Tanzanië geleë is.

Sy is 'n ekonomiese spesialis by die Verenigde State se ambassade in Pretoria. Haar pligte sluit in die rapportering, ontleding en voorspelling van ekonomiese toestande en tendense in Suid-Afrika, met 'n spesiale fokus op handel en beleggings, makro-ekonomie, die bankwese en finansies, insluitende wetgewing en hangende regulatoriese kwessies met implikasies vir beleidsprioriteite van die VSA.

Wanneer sy nie werk nie, bring sy tyd saam met haar vriende en familie deur, lees romans en stap.

 TERUG:
Varswaterspesies is in gevaar omdat dit
deur menslike aktiwiteite bedreig word
 VOLGENDE:
Optimaliseer risikobestuursbeleggings
deur nuwe metodes te ondersoek
facebook
twitter
youtube
More research news

Deel asseblief jou kommentaar en insette deur 'n e-pos aan die nuusbriefredakteur, willie.duplessis@nwu.ac.za te stuur.