Augustus 2022

NWU produseer navorsing wat saak maak

Welkom by die vyfde uitgawe van die Noordwes-Universiteit se nuusbrief, Navorsing@NWU.

immagine1

Adv Dineo Mongwaketsi

Die cannabisprobleem: regsgrense moet tussen huis en werkplek vasgestel word

Die Konstitusionele Hof van Suid-Afrika het in 2018 die kweek en gebruik van cannabis gewettig, mits dit vir privaat gebruik deur 'n volwasse persoon in 'n privaat plek is.

Advokaat Dineo Mongwaketsi het in haar meestersgraadnavorsing, wat by die NWU uitgevoer is, gekyk na die regsimplikasies wat die wettiging van cannabis vir werkgewers en werknemers inhou.

Die doel van die studie was om vas te stel hoe die twee teenstrydige belange – persoonlike regte en die regte van werkgewers – hanteer moet word.

Die studie het ook gekyk na wanneer dit as redelik en regverdigbaar beskou kan word om cannabis in jou eie privaat woning te gebruik in soverre as wat dit met die werkplek oorvleuel.

Dineo sê dat hierdie uitspraak verreikende implikasies vir cannabisgebruikers inhou.

"Die gebruik van cannabis was voor 2018 in die Republiek van Suid-Afrika gekriminaliseer. As gevolg daarvan was daar 'n streng verbod op die gebruik van cannabis in die werkplek."

Cannabisgebruikers beskou die uitspraak van die Konstitusionele Hof as 'n langverwagte oorwinning. "Ten spyte daarvan skep die kwessie van 'n openbare en 'n privaat plek vir ander – veral vir werknemers – verwarring oor wat as 'n privaat of 'n openbare plek beskou word. Ek het spesifiek gekyk na die regsimplikasies wanneer werknemers in die werkplek positief toets vir die gebruik van cannabis," sê Dineo.

Wat sake kompliseer, is dat mense cannabis vir verskillende redes gebruik, insluitende spirituele of godsdienstige redes, vir ontspanning en as terapie vir verskillende kwale.

Dineo sê voor 2018 was die gevolge of implikasies van die gebruik van cannabis in die werkplek maklik en eenvoudig: ontslag.

"Die saak in die Konstitusionele Hof in die Minister of Justice and Constitutional Development v Prince 2018 JOL 40399 (CC) het die regsposisie oor die gebruik van cannabis verander," sê sy.

"Daardie uitspraak het 'n kwessie ten opsigte van die arbeidsreg-aspekte geskep. Werknemers wat cannabis in hulle eie privaat woning gebruik, kan oorvleuel met die werkplek, en verskillende werkplekbepalings weerspreek wat in die werknemer se gedragskode vervat is," sê Dineo.

"Daar is 'n behoefte aan duidelikheid oor die regte van werknemers om cannabis in hulle eie privaat wonings te gebruik vergeleke met die plig van werkgewers om 'n veilige werksomgewing te verskaf," sluit sy af.

 TERUG:
Ons lei deur navorsing
by die Noordwes-Universiteit
 VOLGENDE:
Varswaterspesies is in gevaar omdat dit
deur menslike aktiwiteite bedreig word
facebook
twitter
youtube
More research news

Deel asseblief jou kommentaar en insette deur 'n e-pos aan die nuusbriefredakteur, willie.duplessis@nwu.ac.za te stuur.