Julie 2022

NWU doen navorsing wat relevant is

Welkom by die vierde uitgawe van die Noordwes-Universiteit se nuusbrief, Navorsing@NWU.

Mikroskopiese wonder op geelbuik-seeslang is 'n wetenskaplike deurbraak

Net soos reusagtigheid ontsag kan inboesem, so is daar wonders in die ongelooflike kleine te vind. Vir dr Roksana Majewska van die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe aan die NWU is dit baie waar.

Voordat ons die mikroskoop nadertrek, moet ons praat oor Hydrophis platurus – of die beterklinkende geelbuik-seeslang. Hierdie giftige seeslang word in al die oseane van die wêreld aangetref, behalwe die Atlantiese Oseaan, en word maklik aan sy duidelike geel pens herken. Dit kan ook agteruit swem, wat alle ander seeslange sonder hierdie talent sal toegee 'n baie oulike en benydenswaardige kunsie is.

Kom ons kyk nou na die mikroskopiese, waar ons 'n eensellige alg sal aantref wat die naam Hydrophis platurus minder eksoties en selfs 'n klein bietjie agterlik sal laat klink: Nagumoea hydrophicola. Dit is 'n diatoom, wat beteken dat dit deel is van 'n groot groep akwatiese en terrestriële alge en mikro-alge.

Dr Majewska was die eerste navorser om hierdie diatoom te ontdek, en sy het dit op 'n geelbuik-seeslang gevind.

"Dit is altyd so opwindend wanneer jy 'n nuwe mikrobiese monster ondersoek. Daar is 'n goeie kans dat jy iets gaan sien wat niemand anders nog ooit waargeneem het nie. Ná my vorige ervarings met seeskilpad- en manatee-diatome, het ek verwag om diatome daar te vind, maar ek het nie verwag dat hierdie eerste loodsstudie dit so duidelik sal maak dat seeslange ook hulle afsonderlike en hoogs unieke diatoomflora besit nie," sê dr Majewska oor haar baanbrekerontdekking.

Sy het drie monsters geelbuik-seeslange by die Port Elizabeth Museum bestudeer en spesifiek gefokus op wat op hulle velle groei.

Wat sy gevind het deur die monsters te ontleed wat 23 jaar uit mekaar versamel is, was dat Nagumoea hydrophicola nie net 'n nuutontdekte spesie is nie, dit kan ook 'n spesie wees wat spesifiek op seeslange leef.

"Wat is die kans dat onder die honderde duisende diatoomspesies wat in die oseaan bestaan, slegs een in oorvloed gevind sal word op seeslange wat 23 jaar uit mekaar by twee verskillende plekke ingesamel is?"

Wat is inderdaad die kans? Haar ontdekking het ook opwindende implikasies.

Vermoë om te fotosinteer is die sleutel

"Hierdie bevinding dui daarop dat daar mikro-alge is wat verkies om op die vel van seeslange te leef. Is dit nie bisar en verstommend nie? Diatome, soos plante, het die vermoë om te fotosinteer, met ander woorde om organiese materiaal uit anorganiese bestanddele te skep deur die energie van lig te benut. Dit beteken dat hulle potensieel enige plek in die oseaan kan leef, solank as wat daar lig sowel as vashegpunte beskikbaar is."

Danksy daardie geelbuik-seeslange wat agteruit kan swem, het hierdie diatome 'n baie goeie kans om te groei en te floreer.

"Vir talle nieplanktoniese alge is die probleem dat die enigste harde oppervlakke in die oop oseaan waaraan hulle kan vasheg op die bodem van die oseaan bestaan, waar daar geen lig is nie. Die nuwe bevindings dui aan dat sommige diatoomspesies spesialiseer om op die oppervlakke van hulle lewende dieregashere te leef, waarskynlik om mededinging om harde oppervlakke en lig met ander see-organismes te vermy," verduidelik sy.

"Dit beteken ook dat hulle lot en oorlewing noodsaaklikerwys met dié van hulle gasheer verbind word. Is die vel-geassosieerde diatome vir die slang belangrik? Het hulle 'n rol in hulle gasheer se biologie te speel? Op die oomblik het ons geen idee nie."

Hierdie diatome kan dalk baie klein wees, maar hulle hou groot potensiaal in: "Sulke ongewone mikroörganismes moet spesiale eko-fisiologiese en biochemiese aanpassings hê wat hulle in staat stel om op 'n fisiologies-aktiewe en mobiele oppervlak soos die seeslang se vel te floreer, waar ander alge nie kan oorleef nie. Hierdie mikrobes met hulle ekstreme habitat is 'n uitstekende potensiële bron van byvoorbeeld unieke bioaktiewe verbindings en middels, insluitende antibiotika."

Baie groot dinge wat klein begin het, kan groei.

1 / 4
'n Geelbuik-seeslang wat swem.
2 / 4
Seeslang-verwante eendmossels (Octolasmis sp.). Skaalbalk = 1 mm.
3 / 4
Geskandeerde elektronmikroskopiebeeld van die diatoom Nagumoea hydrophicola (interne beeld). Skaalbalk = 1 µm (mikrometer)
4 / 4
Dr Roksana Majewska wat 'n jong geelhaai vashou.

'n Geelbuik-seeslang wat swem.

'n Geelbuik-seeslang wat swem.
Seeslang-verwante eendmossels (<em>Octolasmis</em> sp.). Skaalbalk = 1 mm.
Geskandeerde elektronmikroskopiebeeld van die diatoom <em>Nagumoea hydrophicola</em> (interne beeld).
Dr Roksana Majewska wat 'n jong geelhaai vashou.
 TERUG:
Navorsing@NWU
Volume 4 Julie 2022
 VOLGENDE:
Nuwe taalhulpbronne vir die
vier Suid-Afrikaanse Nguni-tale
facebook
twitter
youtube
More research news

Deel asseblief jou kommentaar en insette deur 'n e-pos aan die nuusbriefredakteur, willie.duplessis@nwu.ac.za te stuur.