Prof Bismark Tyobeka, hoof en visekanselier, spreek die gehoor toe.
Prof Sonia Swanepoel, adjunk-visekanselier vir gemeenskapsbetrokkenheid en Mahikengkampusbedrywighede, beklemtoon die belangrikheid van wedersydse leer.
Prof Tyobeka by een van die stalletjies.
Die gehoor luister aandagtig.
|
Die doel van hierdie besprekings was om die universiteit se rol te onderstreep in die benutting van die kundigheid op sy drie kampusse om tot voordeel van die breër gemeenskap te wees.
Prof Sonia Swanepoel, adjunk-visekanselier vir gemeenskapsbetrokkenheid en Mahikengkampusbedrywighede, het beklemtoon hoe belangrik dit is dat daar wedersydse leer is tussen die NWU en die gemeenskappe wat hulle dien.
"Ons glo vas dat die verwerwing van kennis en die deel daarvan nie 'n eensydige saak moet wees nie. Net soos ons ons navorsingsbevindings en innoverende idees met die samelewing deel, is dit ook ons doel om met ons gemeenskappe te skakel om by hulle te leer en toe te laat dat hulle ons onderrig," het sy gesê.
Die uitstalling het bydraes van die NWU-fakulteite bevat, en dié wat dit bygewoon het, het die geleentheid gehad om 'n verskeidenheid inisiatiewe te verken – van plaaslike landbouprogramme tot gesondheidsintervensies en opvoedkundige uitreikaksies.
Fakulteitslede was by hulle stalletjies teenwoordig en het hulle werk met nuuskierige besoekers gedeel, terwyl gemeenskapsleiers hulle ervarings oor hulle samewerking met die universiteit gedeel het. Die visuele uitstalling van idees en navorsing het 'n tasbare gevoel van die voortgaande impak van die NWU verskaf.
Prof Bismark Tyobeka, NWU hoof en visekanselier, het gepraat oor die 20 jaar lange reis van die universiteit ten opsigte van gemeenskapsbetrokkenheid en beklemtoon hoe dit gegroei het. Hy het die formalisering van hierdie pogings teruggevoer na die Witskrif oor Hoër Onderwys van 1997, wat die NWU se beleid oor werk met gemeenskappe gevorm het.
Prof Tyobeka het gesê dat, ten spyte van die uitdagings van beperkte fondse en hulpbronne, verskeie mylpale bereik is, insluitende die stigting van 'n gemeenskapsbetrokkenheidskantoor en die belyning van die projekte van die NWU met die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (SDGs).
"Sestig persent van ons gemeenskapsbetrokkenheidsprojekte het nou instrumente wat dit moniteer en evalueer, wat ons help om die sukses daarvan te meet en te verseker dat ons aanpas by die veranderende behoeftes van die gemeenskappe wat ons dien," het hy gesê.
Hy het beklemtoon hoe belangrik dit is om etiekklaring vir navorsingsprojekte te verkry en 'n beroep gedoen vir meer konsekwente befondsing en vennootskappe met organisasies in die privaat sektor om volhoubaarheid te verseker.
Ander sprekers by die uitstalling het pastoor Piet Tlhabanyane, 'n NWU Raadslid, Kgosi Thari Maotwe van die Huis van Tradisionele Leiers, Mike Gcaba, 'n NWU-alumnus en sakeman, en dr Margaret Irvine van Rhodes Universiteit ingesluit.
Hulle het almal saamgestem hoe belangrik samewerking is en die rol beklemtoon van gemeenskapsbetrokkenheid om die kritieke kwessies soos werkloosheid en voedselsekerheid aan te pak. Hulle insigte het 'n bydrae gelewer oor die toenemende gesprekke oor hoe universiteite soos die NWU kan voortgaan om sy gemeenskappe te dien deur plaaslike uitdagings te hanteer.
|