Hannes du Toit, 'n dosent by die Fakulteit Ingenieurswese en stigter en senior projekdirekteur van Engenius Kids.
"Ons missie is om toekomstige innoveerders en leiers in Suid-Afrika te kweek deur blootstelling, opvoeding en aanmoediging op die gebiede van STEM te verskaf," sê Nadin Talip, programbestuurder vir Bemarking en Media by Engenius Kids.
Engenius Kids verskaf 'n reeks aktiwiteite wat ontwerp is om STEM-vakke toeganklik en interessant vir jong leerders te maak. Die program sluit interaktiewe werkswinkels in met sessies wat werklike toepassings van wiskunde en wetenskap demonstreer, en wat hierdie vakke meer relevant en opwindend vir leerders maak. Bedryfstoere na verskillende STEM-verwante bedrywe word gereël om vir hulle eerstehandse blootstelling aan moontlike loopbane in ingenieurswese en tegnologie te gee en om toegang tot opvoedkundige hulpbronne vir leerders in graad 10 tot 12 te verskaf. Tutordienste in wiskunde en wetenskap word ook aangebied om leerders te help om in hulle studies uit te blink en om hulle vir toekomstige loopbane in STEM voor te berei.
Die program word aangebied deur 'n passievolle span van 72 vrywilligers, insluitende fakulteitslede, ingenieurstudente, en Hannes du Toit, 'n dosent in die Fakulteit Ingenieurswese en die stigter en senior projekdirekteur van Engenius Kids.
Die inisiatief het as 'n Saterdag-skool begin, waar kinders vir onderrig betaal het en blootstelling aan ingenieurskonsepte ontvang het. In 2020 het hulle egter in reaksie op 'n merkbare afname in STEM-vakkundiges in Suid-Afrika hul fokus verskuif om 'n bewustheid oor STEM-opvoeding onder minderbevoorregte gemeenskappe te kweek.
Engenius Kids stel leerders deur middel van onderhoudende en insiggewende uitstallings aan verskillende ingenieursdissiplines bekend, insluitende bedryfs-, chemiese, meganiese, elektriese en rekenaaringenieurswese. Deur die mistiek van die STEM-gebiede weg te neem, het Engenius Kids ten doel om vir leerders te wys dat hierdie vakke nie intimiderend is nie, maar eerder talle geleenthede vir groei en sukses verskaf. Wanneer leerders kies om met wiskunde en wetenskap aan te gaan, word hulle verder ondersteun deur bedryfstoere te organiseer na ingenieursmaatskappye in Potchefstroom, wat vir hulle 'n dieper insig in die wêreld van ingenieurswese gee.
Die primêre gemeenskap vir Engenius Kids is Ikageng Uitbreiding 7 in Potchefstroom, met BA Seobi Sekondêre Skool as die vernaamste begunstigde. Die projek is ook na skole in die Vanderbijlpark- en Mahikeng-streke uitgebrei.
"Engenius Kids word tans uitsluitlik deur die NWU se Fakulteit Ingenieurswese befonds. Wanneer ons na die toekoms kyk, hoop ons om uit te brei om meer gemeenskappe te bereik en voort te gaan om baie waardevolle ondersteuning aan aspirerende jong ingenieurs te verskaf. Ons visie is om 'n blinker toekoms vir STEM in Suid-Afrika te verseker deur 'n nuwe geslag opgeleide vakkundiges te kweek," sê Nadin.
"Die lonendste aspek van hierdie projek is om te hoor van diegene wat nou by universiteite is en wat vertel hoe Engenius Kids hulle gehelp het om hulle loopbaankeuses te vorm," voeg sy by.
Dis sukses van die Engenius Kids-program is duidelik, met talle ontvangers wat hulle dankbaarheid uitspreek vir die blootstelling en leiding wat hulle ontvang het. Dit beklemtoon die blywende impak wat die program op hulle lewens het.
Sluit aan by en ondersteun die Engenius Kids-program deur die volgende geslag ingenieurs en innoveerders te bemagtig en help ons om voort te gaan om deur STEM-opvoeding 'n verskil in die lewens van Suid-Afrika se jeug te maak. Kontak hulle via hulle Instagram-bladsy, @engenius_kids, vir meer inligting.
|