PROFIEL

Alumna en entrepreneur Tharina van den Heever is met Divan getroud. By hulle is hul dogtertjie, Caria.

Terwyl sy na haar dogter, Caria, gekyk het, het Tharina die idee gekry om herbruikbare materiaaldoeke wat van natuurlike produkte gemaak is, in te voer.

Mama Bear gee om vir babalyfies en Moeder Natuur

Die geboorte van haar babadogtertjie het ʼn groot omwenteling in haar lewe teweeggebring en haar beroep in ʼn totaal nuwe rigting gestuur.

NWU-alumna Tharina van den Heever het haar besige korporatiewe loopbaan – as aandelemakelaar en later kommoditeithandelaar vir oliesade – verruil om ʼn voltydse ma vir klein Caria (nou drie jaar oud) te wees.

 

Dit het daartoe gelei dat sy ʼn splinternuwe invoerbesigheid begin het. Omdat sy net die beste vir haar baba wou hê, het sy in die besigheid, Mama Bear, belê wat materiaaldoeke, eko-produkte en spesiale drasakke vir kleingoed invoer.

 

Dit was eintlik Tharina se neus wat tot dié nuwe besigheid gelei het. “Ek is besonder reuk-sensitief en kon nie die reuk van weggooidoeke verdra nie. Ek het begin lees oor alternatiewe en in Australië op heelwat weergawes van ʼn moderne materiaaldoek afgekom,” sê Tharina wat op ʼn plaas naby Polokwane in die Limpopo-provinsie woon.

 

“My skoonma bly in Australië en sy het vir die eerste keer vir my van die moderne doeke saamgebring. Ek was dadelik beïndruk daarmee aangesien dit geen chemiese middels bevat het nie, dit kon ‘asemhaal’ en het perfek om Caria se babalyfie gepas.” Sy voeg by dat dit eko-vriendelik is en maklik om skoon te kry. “Jy raak ontslae van die los doekvoering of ‘nappy liner’ en gooi die doek in die was.”

 

Doen ʼn guns vir Moeder Aarde

 

“Die ekonoom in my het oorgeneem en ná ek paar somme gemaak het, het ek besef watter ongelooflike besparing dit vir my sal beteken. Boonop het my ‘greeny’-hippie-hart my laat besef ek sou Moeder Aarde ʼn groot guns bewys om van die natuurlike produkte te gebruik.”

 

Op haar Mama Bear-webblad verduidelik sy dat weggooidoeke op vullishope beland en die grondwater en uiteindelik ook vars drinkwater besoedel. Dit word gesê dat weggooidoeke ten minste 300 jaar neem om te ontbind.

 

Tharina sê die besigheid is meer ʼn passie en nie soseer ʼn geldmaakstorie nie. “Ek weet die produkte is van die beste kwaliteit en kan ander mammas baie geld bespaar.”

 

Sakke help vir ronddra

 

Tharina se man, Divan, is ʼn professionele gholfspeler en jagter wat baie van die huis af weg is. Sy moes planne beraam om Caria saam met haar te dra terwyl die werk op die plaas en met haar perde moes voortgaan.

 

Om dit vir haarself makliker te maak, het sy begin om drasakke en geweefde materiale van Duitsland, Nederland en Skotland in te voer wat sterk genoeg is om ʼn driejarige te dra. Die sakke is spesiaal ontwerp om die baba se ruggraat en heupe te ondersteun.

 

Tharina is in Bothaville gebore en het op die plaas grootgeword. In 2007 het sy ’n BCom-graad in risikobestuur aan die NWU behaal. Sy praat met groot deernis en verlange van haar dae as student in Potchefstroom en sê sy sal dit altyd onthou.

 

die NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

KLIK

DEEL

<

>

Navigasie

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

mEER INLIGTING

Mama Bear se klein beertjie, Caria, is lief vir die perde op hulle plaas naby Polokwane.

NWU & U  |

NWU & U  |

X

Front page

 

On the front page photograph, Stephen Bogatsu (as Tyrone Jackson) dances with Lyrinda Venter (in the role of ballet dancer Iris Kelly).

NWU & U