PROFIELE

Alumna Salomé Kotzé, redakteur van die Klerksdorp Record en bekroonde joernalis, sê haar werk bring haar nog gereeld by die universiteit en sy verstom haar aan al die uitbreidings en veranderings op die kampus in Potchefstroom.

 

Sy het ingeskryf vir ’n meestersgraad in kommunikasiestudies, maar weens werksdruk moes sy vir eers halt roep. Sy hoop om haar studies volgende jaar voort te sit.

 

Cupido slaan toe

 

Dit was eintlik Salomé se nuuskierigheid wat vir Cupido kans gegee het om ʼn kolskoot te skiet.

 

“Ek was bevoorreg om twee dae ná my finale eksamen in 1995 by die Klerksdorp Record te begin werk as vermaakverslaggewer.”

 

Maar by vermaakverslaggewer het dit nie gebly nie – haar nuuskierigheid het haar tot hof- en misdaadskryf gedryf. “So het dit toe gebeur dat ek verlief raak op ’n speurder in Orkney.”

 

Salomé en haar polisieman, Flip is nou reeds 17 jaar getroud. “Ons het al baie sakke sout saam opgeëet en bly vandag lekker in ons huisie op Orkney – saam met twee Labradors en ’n nors kat,” sê sy.

 

Treffende foto’s plaas redakteur in die kollig

Klerksdorp Record-redakteur Salomé Kotzé staan aan albei kante van die nuus. Sy is nie net ’n gesoute joernalis nie, maar ook ’n nuusmaker in eie reg. Dit het sy onlangs weer bewys toe sy as die gemeenskapskoerante se Persfotograaf van die Jaar aangewys is.

Die organiseerders van die kompetisie, die Forum vir Gemeenskapsjoernaliste, het die 2018-wenners in Julie vanjaar aangekondig. ’n Portefeulje van ses van haar foto’s wat gedurende 2018 in die Klerksdorp Record verskyn het, het vir haar die toekenning besorg.

 

Daardie eerste treë

 

Salomé het as BCom Kommunikasie-student op die kampus van die voormalige Potchefstoomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys geleer om die fynere kunsies van joernalistiek onder die knie te kry.

 

Tussen 1992 en 1995 was Wag-ʼn-Bietjie-dameskoshuis haar tuiste. “Danksy die wondere van Facebook het ek nog steeds kontak met my koshuismaats en klasmaats. Hoewel meer as die helfte van hulle nou in die buiteland bly, gesels ons nog dan en wan en volg mekaar se doen en late.”

 

Van groentjie tot redakteur

 

Sy het in 1995 as groentjie by die Klerksdorp Record begin werk, en tien jaar later het sy redakteur van dié koerant geword.

 

Sy sê gemeenskapskoerante moet deesdae oor ʼn hele paar hekkies spring. “Die werk word nie regtig minder nie, maar namate die personeel minder word, word daar nie nuwes aangestel nie.”

 

Nog ʼn uitdaging is sosiale media – sy sê elkeen met ’n selfoon en ’n profiel op sosiale media dink deesdae hy of sy is ’n joernalis of fotograaf. Boonop sukkel gemeenskapskoerante om mee te ding met die gratis advertensies op sosiale media.

 

As Salomé nie by die koerant is nie, gee sy deeltyds klas in fotografie vir hoërskoolleerlinge en studente of doen vryskutskryfwerk vir verskeie publikasies.

Haar kiekies kraai koning ... Dié fotos wat Salomé geneem het en in 2018 in die Klerksdorp Record verskyn het, het stof in die oë van ander gemeenskapsjoernaliste geskop.

 

Onthou jy nog van dore en Days of Our Lives?

 

Ai, daardie lang, geel dorerok ... Salomé sê die koshuisuniform wat hulle eerstejaars – bekend as dore – moes dra, is glad nie ’n lekker herinnering nie. Gelukkig oorskadu die hope lekkerkry-herinneringe darem dié een.

 

“Ons gang se meisies was verslaaf aan sepies en het weeksdae tussen vyfuur en seweuur voor ’n klein bokstelevisie ingeskuif om Days of Our Lives, The Bold and the Beautiful en Egoli te kyk.”

 

Ander prentjies in haar kop is van haar kamermaat se ligblou klassieke Ford wat hulle Ystervoël gedoop het en met sy eie telefoon toegerus was, en blommetjiesvou op die Joolplaas.

 

“Ek onthou ook die laatnag- of deurnag studiesessies, die Intervarsity trips na Bloemfontein en ’n lelike onderonsie met vodka en lemoensap ....”

 

 

 

 

DIE NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Navigasie

>

<

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

MEER INLIGTING

KLIK

DEEL

 

Sy ryg toekennings in

 

Vanjaar se toekenning as Persfotograaf van die Jaar was een van ’n hele rits pryse wat Salomé Kotzé se kundigheid haar deur die jare in die sak gebring het.

 

“Ek het in 2007 dieselfde prys gewen toe die kompetisie nog as die Sanlam Gemeenskapsperstoekennings bekend was,” vertel sy.

 

Sy was ook al ’n finalis vir die ATKV se Mediaveertjies. Nog ’n toekenning waarop sy trots is, is dié van ATKV Afrikoon wat sy in 2005 ontvang het vir haar “merkwaardige bydrae as organiseerder/joernalis in die gemeenskap”.

 

<>Nog twee pragtige foto’s wat Salomé geneem het. Die Kotzés se twee labradors, Ben en Babsie, is boetie en sussie. “Babsie is die stout een,” sê Salomé. Seuntjiekat Pearlie was piepklein en het soos ʼn pêreltjie gelyk toe hy onder ʼn sinkdak gebore is en byna van hitte doodgegaan het.

NWU & U  |

NWU & U  |

NWU & U