ProfIELE

Alumnus Kaka Mokakale sê taal stel hom in staat om mense van sy kultuur en oortuigings te vertel. “My kultuur is alles in my taal vasgelê. In Setswana sê ons ‘molomo o goga leoto’, wat beteken dat wat jy sê, bepaal hoe jy loop.”

 

Sy liefde vir woorde

 

Nadat hy opleiding in leksikografie van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad en TshwaneLexDje ontvang het, het Kaka ’n roman, Matlhotlhapelo, geskryf.

 

“Ek is tans besig met my eerste Setswana-digbundel getitel Ga le boe, en ek skryf ook ’n versameling kortverhale,” sê Kaka. “As student het my roman, Matlhotlhapelo, in 1998 die eerste plek in ’n finalejaarsprojek behaal,” sê hy.

 

Kaka was medeskrywer van Ntime O mphele Ngwana (Setswana: Puo Ya Gae), ’n boek wat graad 12’s gebruik. Hy het ook ’n Setswana-woordeboek saamgestel, wat in 2008 deur Nutrend Uitgewers uitgegee is, en ’n Setswana-Engels-Setswana-woordeboek vir MacMillan, BoSetswana.

 

Alumnus wil Setswana bewaar en bevorder

Setswana is een van die 11 amptelike tale wat in Suid-Afrika gepraat word, met Setswana-sprekers wat die vyfde grootste taalgroep uitmaak.

NWU-alumnus en dosent Kaka Mokakale is op ’n missie om Setswana te bewaar en bevorder. Dit is een van die tale wat as gevolg van die toenemende gebruik van Engels as die taal van die sakewêreld, regering en onderwys as bedreig beskou word.

 

“Vir my is taal nie net ’n stelsel van kommunikasie wat gegrond is op woorde en die kombinasie van woorde in sinne nie. Dis ’n lewenswyse, dit is wie ek is,” sê hy.

 

Kaka produseer en bied programme aan vir die SABC, Motsweding FM, Radio 2000 en die National Radio of Namibia.

 

“As ’n radiopersoonlikheid wil ek hierdie medium gebruik om die taal te bevorder. Die radio laat my toe om oor die belangrikheid van tale te praat en die jeug van ons land aan te moedig om taal lief te hê.

 

“As ’n lid van die Setswana Nasionale Taalliggaam wil ek ons taal gewild maak sodat dit deel van ons jongmense se lewe word.”

 

Waar dit alles begin het

 

Kaka is in die dorpie Pudumong in Taung in Noordwes gebore en getoë, en het aan die voormalige Universiteit van Noordwes, nou bekend as die NWU, studeer.

 

Hy het in 1999 ’n BA-graad in opvoedkunde voltooi, waarna hy sy BAHons in Setswana behaal het en in 2002 ’n meestersgraad in inheemse kennisstelsels verwerf het.

 

Benewens onderrig gee in Setswana in die vakgroep Setswana en Afrikatale vir Onderwys in die Fakulteit Opvoedkunde, is hy tans ’n PhD-kandidaat in letterkunde op die kampus in Mahikeng.

 

Hy woeker met woorde

 

As stigter en lid van Kaka M Trading, wat in vertaal-, tolk-, proeflees- en redigeerdienste spesialiseer, doen hy heelwat vryskutwerk vir Oxford University Press.

 

Kaka, wat reeds talle Setswana-boeke voor publikasie geredigeer, geproeflees en geëvalueer het, het ook ’n reeks boeke genaamd Lesedi geskryf.

 

Hy is verder ook by die Setswana Language Grammar Portal vir leerders en studente vanaf graad 10 tot op universiteitsvlak betrokke.

 

In ooreenstemming met die NWU se meertaligheidsbeleid, speel Kaka ’n beduidende rol om hierdie belangrike Suid-Afrikaanse taal en erfenis te bewaar.

 

’n Chinese spreekwoord lui: Om ’n taal te leer, is om meer as een venster te hê waardeur jy na die wêreld kan kyk.

 

Dit is presies wat Kaka doen: hy maak vensters oop vir almal van ons om die kleurryke taaldiversiteit van ons land te waardeer.

 

 

 

DIE NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Navigasie

>

<

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

MEER INLIGTING

KLIK

DEEL

Kaka is ’n lid van PanSAT se Setswana Nasionale Taalliggaam en die Setswana Language Grammar Portal.

NWU & U  |

NWU & U  |

NWU & U