PROFIELE

Etienne Swanepoel staan aan die hoof van ’n foto- en kinematografie-onderneming genaamd Paper Plane Media. Self ’n baardman, het hy ook ’n baard- en velprodukmaatskappy begin. Op die foto sien jy nie ’n papiervliegtuigie deur die lug vlieg nie, maar ’n geblikte produk van The Gentlemen’s Beard Factory.

 

Wanneer een deur toeklap, gaan ’n ander een oop

 

Etienne se lewensreis het hom ná matriek na die kampus in Vanderbijlpark gebring, waar hy ’n lid geword het van die span wat die NWU se Vanderbijlpark-rugbyklub in 2011 op ’n toer na Pole verteenwoordig het.

 

Sy rugbyvaardighede het hom in staat gestel om vir die NWU te speel en van daar af het hy uiteindelik Curriebekerrugby vir die Valke gespeel.  ʼn Besering het egter sy rugbyloopbaan ná drie jaar kortgeknip.

 

Gelukkig was Etienne net so sterk in die lesingsaal as wat hy op die rugbyveld was, en het hy akademies uitgeblink.

 

Hy het veral die klas in bemarking by dr Re-An Muller geniet. “Dr Muller het ’n manier gehad het om elke klas ’n gemaklike leerervaring te maak en aan die studente ’n praktiese gevoel vir die vak gegee het. Ek gebruik steeds dit wat ek by hom geleer het.”

 

Baardolie en papiervliegtuigies maak sy pad oop

Dit maak nie saak wat ander sê nie, staan op en doen wat jy wil doen – niemand kan jou sukses bepaal nie, net jy alleen.

 

Dít is wat Etienne Swanepoel geïnspireer het om sy eie fotografie- en kinematografie-onderneming te begin nadat hy net ’n kort rukkie in die formele arbeidsmark was. Hy het sedertdien ook die wêreld van baard- en velprodukte betree, en getoon dat sy entrepreneursgees geen perke ken nie.

Hierdie trotse alumnus van die NWU se kampus in Vanderbijlpark het in 2016 met ’n BCom Bemarking-graad gegradueer. Hy staan nou aan die hoof van Paper Plane Media, wat hy saam met ’n vriend, Arno Greeff, die bekende akteur in die Afrikaanse reekse Binnelanders en Getroud met Rugby, bedryf.

 

Die maatskappy spesialiseer in films, foto’s en digitale inhoud. Hulle het reeds 14 films, vier musiekvideo’s, 254 fotosessies en 34 troues op hul kerfstok. Dit bring Etienne se eie getal fotosessies vir troues op ’n ongelooflike 137 in ses jaar te staan.

 

Wees jou eie baas

 

“Ek het nog altyd geweet ek moet my eie ding doen,” sê Etienne. Nadat hy ’n rukkie in verkope gewerk het, het hy hierdie sprong gemaak om sy eie drome na te jaag in plaas daarvan om aan iemand anders se ryk te bou.

 

“Ek dink jy werk soveel harder wanneer jy jou eie onderneming bedryf, omdat jy weet wat jy wil bereik.”Sy werk neem hom oral oor die land en hy moes al ’n paar keer in sy motor slaap, maar vir Etienne is dit alles deel van die avontuur. “Wanneer jy doen waarvan jy hou, sal jy nooit weer in jou lewe hoef te werk nie.”

 

Hy onthou met vreugde die kampus in Vanderbijlpark as ’n plek waar jy altyd iemand sal kry wat omgee. Hy onthou winteroggende wanneer die mis van die rivier af inrol en die ganse in hulle wit gepofte veredos op die kampus rondwaggel.

 

Een keer ’n entrepreneur, altyd ’n entrepreneur

 

Terwyl hy studeer het, was hy reeds besig om sy koninkryk te bou en het hy deeltyds foto’s geneem en later ook Powerbalance-armbande ingevoer om aan sy medestudente te verkoop.

 

Etienne beskou sy tyd by die NWU as baie belangrik, en sê dit het hom gemaak wie hy is. “Niemand kan ’n opvoeding van ’n mens wegneem nie. As ek alles anders verloor, sal ek steeds my graad hê,” sê hy.

 

Daar is geen twyfel dat Etienne se opleiding in die toekoms baie handig te pas gaan kom nie, aangesien hy ook betrokke is by ’n onderneming genaamd The Gentlemen’s Beard Factory.

 

“As student wou ek bitter graag meer bekostigbare baardprodukte in die hande kry – ek veronderstel dat dit is waar die idee vandaan kom.”

Toe The Gentlemen’s Beard Factory gestig is, was dit slegs die vierde van sy soort in Suid-Afrika. Dit produseer ook baard- en velprodukte en fokus op die dinge wat die mededingers nie verskaf nie.

 

Etienne ondersoek ook die moontlikheid om die fotografiebesigheid na die buiteland te neem en die diens vir kliënte in Suid-Amerika en die Portugese Eilande aan te bied.

 

 

 

DIE NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Navigasie

>

<

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

mEER inLIGTING

KLIK

DEEL

Reën of mooiweer, Etienne is altyd gereed om ’n oomblik in tyd vas te vang.

 

“Niemand anders is vir jou sukses verantwoordelik nie. Net jy. En as jy behoorlik vir môre beplan, kan jy vir vandag leef.”

 

Hierdie foto wat Etienne geneem het, illustreer sy besondere vermoë om die natuur in al sy grootsheid uit te beeld.

NWU & U  |

NWU & U  |

NWU & U