PROFIELE
INHOUD

Harde werk is in hul bloed
Dit is nie seker of Sello sy ongeëwenaarde werksetiek van sy pa of sy ma geërf het nie, hoewel die rol wat albei gespeel het, nie onderskat kan word nie.
“My pa is in 1987 oorlede. Hy was ’n bouer, ’n vader, ’n gesinsman. Hy was baie netjies,” onthou Sello, uitgevat in sy vlekkelose wit hemp en dunraambril.
“My ma was die hoof van die plaasskooltjie Terra Peccana. Sy was baie streng. Té streng. Jy het dit nie gewaag om te dop nie,” onthou hy met ’n laggie.
Dit is net voor 11:00 op ’n Maandagoggend en Chris Hanistraat in Potchefstroom is ’n miernes van bedrywighede. Motors swiep verby en die kafee op die hoek se vrugte en groente is al in netjiese rye uitgepak.
Sello Maroga staan buite die Afrikaner Slaghuis wanneer ’n wit bakkie voor die slaghuis stilhou en ’n jongman met ’n oranje pet rats uitspring.
“Die ou van Mpumalanga!” groet Sello voordat hy sê, “Jy moet vir jou kom biltong kry.”
’n Droom word waar
Dit is hierdie verwelkomende houding wat kliënte al twee jaar lank by Afrikaner Slaghuis begroet. “Ek sal nooit vergeet nie, dit was 7 Desember en ek het die oggend wakker geword nadat ek in die nag ’n droom gehad het. God het aan my ’n gesin gewys wat hul besigheid aan my wil verkoop,” verduidelik Sello.
Daardie selfde dag het die Van Wyk-gesin hom gebel om die Afrikaner Slaghuis te verkoop.
“Ek geniet dit verskriklik. Daar is ’n klomp voor- en nadele – soos dat kontantvloei ’n probleem kan wees – maar hierdie winkel is deur die hemel vir my aangebied, en ek is hier om God se kinders te voed,” sê hy. “Dis ’n roeping.”
’n Gesonde grondslag
Sello het ’n hoëronderwysdiploma, ’n BCom-, ’n BComHons- en ’n meestersgraad in ontwikkeling en beplanning van die kampus in Potchefstroom verwerf.
“Ek het ’n wonderlike tyd by die NWU beleef. Wat my aangetrek het, was die Christelike karakter van die universiteit.”Dit is waar hy die etos geleer het waarvolgens hy leef. “Dit maak my gelukkig as ek ’n diens kan lewer wat iemand kan help om te floreer.” Wanneer sy beplanning skeefloop – byvoorbeeld wanneer daar beurtkrag is – raak hy gefrustreerd, maar dit gebeur darem nie maklik nie.
“’n Slaghuis loop in ’n volgorde. Elke persoon het ’n rol om te speel, en as hulle hul bes doen om daardie rol te vervul, funksioneer ons op ons beste.”
By Afrikaner Slaghuis gaan dit oor spanwerk – al die werknemers help vir Sello om sy droom te bewaarheid.
“Ek wil hierdie slaghuis in ’n vleisboetiek ontwikkel. As ’n kliënt in die slaghuis instap, moet hulle kan sê: ‘Dit is waar ek wil wees. Ek wil hier sit en na al die produkte kyk.’”
Ja, Sello met sy sonnige geaardheid weet beslis wat wérk en wat nie.
DIE NWU & U
Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.
Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.
Navigasie
>
<
VOLGENDE ARTIKEL
VORIGE ARTIKEL
KLANK
video
mEER inLIGTING
KLIK
DEEL
