Hierdie opwekker is nie net ’n laekoste-oplossing vir ontsmetting om die Covid-19-uitdagings die hoof te bied nie, maar het ook die belofte om ’n gesondheidsoplossing te bied wat verder as die pandemie strek.

 

Izak Adendorf (22), ’n student in elektriese, elektroniese en rekenaaringenieurswese, is deel van die span wat die oorspronklike uitvinding van Barend Visser, ’n uitvinder in die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe, verder ontwikkel.

 

Beveilig openbare ruimtes

 

Die nuutontwerpte en bygewerkte osoonopwekker kan ’n betekenisvolle impak hê om openbare ruimtes soos universiteite, skole, hospitale en openbare vervoer veilig te maak.

 

Izak se hooffokus is om die NWU se eie sensortegnologie te ontwikkel sodat dit osoonvlakke intyds kan meet en reguleer.

 

“Die sensor sal outomaties die gehalte, humiditeit en suurstofvlakke van die lug in ’n bepaalde omgewing kan meet. Dit sal dan rekenaartegnologie gebruik om vas te stel of meer osoon opgewek en vir ontsmettingsdoeleindes in daardie omgewing vrygestel moet word.”

 

Die gebruik van sensortegnologie saam met die osoonopwekker is uniek deurdat dit van ’n afstand af beheer en geprogrammeer kan word.

 

Izak het die ontwerp van die sensor en rekenaarborde voltooi en dit is tans in die toetsfase. Hy sê sodra die groen lig gegee word oor die veiligheids- en standaardregulasies, sal die produksie vir die bestellings wat reeds ontvang is, onmiddellik begin.

 

Passie lei tot betekenisvolle impak

 

Izak is tydens ’n mini-opedag oortuig om sy tersiêre opvoeding aan die NWU voort te sit. “Ek is mal oor my studies en ek het so baie geleer. Ingenieurswese is my passie.

 

“Ek is dankbaar vir die geleenthede en ondersteuning wat ek regdeur my studies aan die NWU ontvang het, veral van die Fakulteit Ingenieurswese.”

 

Hy moedig studente aan om hulle deel te doen, vrae te vra, deel te neem en gebruik te maak van die geleenthede wat aangebied word, en om die dosente as vennote in hulle ontwikkeling te beskou. Van sy dosente het mentors geword en ook rolmodelle na wie hy opsien.

 

“Die NWU is ook ’n wonderlike plek om lewenslange vriende te ontmoet. Ek skryf my vordering aan die aanmoediging van my mentors en my vriende toe.”

moet lewens verbeter, sê uitvinder-student

TEGNOLOGIE

Die tyd sal leer

 

Izak sê hy dink nog na oor planne vir sy toekoms, hoewel hy tans voltyds besig is om die osoonopwekker markgereed te kry en dit op ’n groot skaal te produseer.

 

“My pa is ’n besigheidsman en benewens ingenieurswese, stel ek ook in besigheid belang.

 

“Ek sal graag elektroniese en rekenaaringenieurswese met entrepreneurskap wil kombineer, deur byvoorbeeld ’n onderneming op te bou wat dalk op aanbodketting- of mediese tegnologie soos monitors of sterilisasietegnologie kan fokus.”

 

“Ek het ook ’n paar ander sake-idees, maar ek wil nou eers my studies op ’n hoë noot afsluit en die osoonopwekker so ver kry om te doen wat dit veronderstel is om te doen – om mense te help. Die tyd sal leer …”

 

Die een ding waarvan hy seker is, is dat hy sy vaardighede en kennis wil gebruik om mense se lewens te verbeter. “Want watter nut het tegnologie as dit nie ’n betekenisvolle impak het nie?”

 

Van knoppies druk tot
baanbrekertegnologie

 

Izak se passie vir elektronika het begin toe hy nog ’n baba was. “My ouers sê ek was mal daaroor om knoppies te druk om te sien wat gaan gebeur. Ek was veral lief vir die voedselverwerker se flikkerende knoppies.

 

“Namate ek ouer geword het, wou ek presies weet hoe elektroniese toestelle werk en ook of hulle meer kan doen as wat hulle tans doen.”

 

Hierdie nuuskierigheid het daartoe gelei dat hy vanaf elfjarige ouderdom gedurende vakansies en naweke by rekenaar- en tegniese werkswinkels skaduwerk gedoen het. Hy sê die ervaring en blootstelling het sy belangstelling in programmering, robotika en netwerk- en rekenaartegnologie geprikkel, wat hom aangemoedig het om as invoerder te registreer.

 

Izak Adendorff kan dalk soos ’n gewone, plat-op-die aarde-persoon lyk, maar sy talente en harde werk strek verder as ingenieurswese.

 

Hy het Protea-kleure in die tweekamp en het al ook verskeie Midmar Miles voltooi. Ten spyte van sy besige skedule, bly hy fiks deur te swem. Wanneer hy sy studies voltooi het, wil hy ’n rukkie ophou studeer en waarskynlik oopwaterswem aanpak.

Klik hier om meer te lees oor die opwindende osoonopwekker en die span wat dit verder ontwikkel, wat ook ander studente insluit.

Izak Adendorf sê hy is baie lief vir die buitelewe, hetsy dit is om in die berge te stap of in die veld piekniek te hou. Hy het al baie in Suider-Afrika en oorsee gereis. ’n Maand lange besoek aan die Oekraïne en vier maande in Duitsland as uitruilstudent is van die hoogtepunte van sy reise.

’n Ingenieurstudent in sy finale jaar is aan die voorpunt van die ontwikkeling van nuwe sensortegnologie vir ’n osoonopwekker wat die koronavirus en ander skadelike virusse en bakterieë kan vernietig.