Die geskiedenis en misdaadfiksie het baie voorbeelde van kleurryke handhawers van die reg wat hulle gemeenskappe met toewyding en onderskeiding dien.

As ’n mens die NWU se geskiedenis sou neerskryf, sal ’n waardige karakter daarin Oarabile Lechuti wees – een van die instelling se langsdienende werknemers, met meer as drie dekades ervaring in kampussekuriteit.

 

Hy het talle veranderings beleef. Hy het begin by die destydse Universiteit van Bophuthatswana (UNIBO), wat later die NWU geword het. Met dié dat hy onder nege direkteurs en bestuurders van kampussekuriteit gedien het, staan sy kennis van die instelling vir niemand terug nie.

 

Hou almal veilig

 

Oarabile het deur die jare sy departement se mandaat uitgevoer deur met onderskeiding noodsaaklike en doeltreffende beskermingsdienste te lewer om so ’n veilige studie- en werksomgewing vir personeel, studente en besoekers op die kampus te skep.

 

Sedert hy by die universiteit aangesluit het, het hy as ’n toegangsbeheerbeampte en senior ondersoekbeampte gewerk, en sy verantwoordelikhede sluit nou ook geleenthede en bedrywighede in.

 

Erkenning vir sy toewyding

 

Oarabile het deur die jare verskeie toekennings vir sy toewyding aan sy werk ontvang.

 

Hy het onlangs erkenning van die Suid-Afrikaanse Polisiediens ontvang vir sy hulp met die vermindering van misdaad in Mahikeng, asook vir sy hulp om goedere terug te kry wat van besoekende studente van die Hanseo Universiteit gesteel is.

 

Aubrey Welken, ’n voormalige direkteur van die departement, sê Oarabile is ’n legende, en baie bekend vir sy toewyding en vasberadenheid om die NWU met uitnemendheid te dien.

 

“Hy glo in remediërende optrede eerder as strafmaatreëls wanneer studente oortree.

 

“Hy is egter baie streng wanneer skade aan eiendom, diefstal, of aanrandings by Beskermingsdienste aangemeld word,” sê Aubrey.

 

“As kundige oor beleids- en prosedurele kwessies, skroom hy nooit om jou hand te vat selfs wanneer jy die leeukuil moet betree tydens ontwrigtings en betogings deur studente nie,” sê Aubrey. Hy voeg by dat Oarabile altyd gereed staan om raad te gee om sake op die beste manier te hanteer.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Ons eie

SHERLOCK HOLMES

Tydens sy merkwaardige en lewenslange toewyding aan die reg, orde en openbare veiligheid, het Oarabile bekend geword vir sy buitengewone vermoë om agter die kap van die byl te kom van enige kwessie wat hy moet ondersoek.

 

Sy ondersoekende vaardighede, goeie onderskeidingsvermoë en die kuns om afleidings te maak, is al met dié van die beroemde karakter, Sherlock Holmes, vergelyk.

 

Dit is deur sy uitstekende interpersoonlike vaardighede dat Oarabile en sy kollegas daarin geslaag het om die planne te onderdruk vir verdere ontwrigting tydens die #FeesMustFall-betogings wat op die Mahikengkampus plaasgevind het.

 

Hy het ook al lof ontvang omdat hy ’n baie groot bydrae gelewer het tot die reputasie wat die NWU se koshuise geniet, naamlik dat dit een van die veiligste omgewings op die kampus is.

 

 

die Sherlock Holmes van kampussekuriteit

Met meer as drie dekades in kampussekuriteit het Oarabile Lechuti ’n legende op die Mahikengkampus geword.