PhD-student en jujitsu-kampioen Moses Radebe is ʼn klinkklare bewys dat dit moontlik is om ’n suksesvolle akademiese loopbaan met ’n passie vir sport te balanseer.

Wen met sport én akademie

ROL AF

Moses Radebe sê as studente in hul eie vermoëns glo, kan hulle binne en buite die sportarena uitblink.

Hierdie Mahikeng-student neem sy studies ernstig op. Hy het ’n BSc in fisika en rekenaarwetenskap en ’n BScHons en MSc in toegepaste stralingswetenskap, en is tans vir ’n PhD in stralingswetenskap geregistreer.

 

Stralingswetenskap fassineer hom

 

Sy fassinasie met stralingswetenskap het begin toe hy besef het watter impak radioaktiewe materiaal wat natuurlik voorkom op die omgewing en mense kan hê, asook die tegnologieë wat stralingsblootstelling opspoor, en moontlike behandelings daarvoor. Hy stel ook belang in maniere om kernsekuriteit te versterk, veral in Suid-Afrika.

 

Nasionale prestasies op sy kerfstok

 

Wetenskap is egter nie sy enigste passie nie. Sedert hy by die universiteit aangesluit het, het Moses ook ’n groot entoesiasme vir Morganti-jujitsu ontwikkel, en spog hy reeds met talle provinsiale en nasionale prestasies op sy kerfstok.

 

Moses is in 2015 as die provinsiale kampioen van staande gevegte aangewys, en in 2016 het hy die Suid-Afrikaanse nasionale kampioen in die Kata-afdeling geword.

 

Die beste in die wêreld

 

In daardie selfde jaar het hy van ’n rooi na ’n swart gordel gevorder, en is hy by die Morganti-jujitsu-kampioenskap in Brasilië as wêreldkampioen vir staande gevegte gekroon.

 

In 2017 het hy weer met die kroon as Suid-Afrikaanse jujitsu-kampioen vir grondgevegte weggestap, en in 2018 het hy ’n goue medalje vir grondgevegte by die Suid-Afrikaanse kampioenskap ontvang.

 

Hy het onlangs aan die Suid-Afrikaanse jujitsu-kampioenskap se kwalifiserende rondtes vir die 2019 Wêreldkampioenskap deelgeneem, waar hy ’n goue medalje vir Kata en span-Kata ontvang het.

 

Hy doen sy deel op kampus

 

Moses is boonop as die Mafikengkampus se Sportman van die Jaar vir 2016 en 2017 aangewys.

 

Hy is ook betrokke by sportadministrasie en is die ondervoorsitter van die Sportraad op die kampus.

 

Moses sê balans en tydsbestuur is baie belangrik. Studente wat in sport sukses wil behaal en ook akademies goed wil vaar, moet hulself druk en nooit met tweede beste tevrede wees nie.

 

As hy nie op die jujitsu-mat of in die klas is nie, geniet Moses dit om kos te maak en foto’s te neem.