Maak 'n verskil, een

Net een persoon kan ook ’n verskil maak – en gewone mense doen dit elke dag.

Prof Welma Lubbe, koördineerder en leier van die Starfish-projek, het onlangs ’n toekenning ontvang vir die beste navorsingsaanbieding by die Building Children-konferensie in Kaapstad.

 

Die projek het ook die belangstelling onder gesondheidsorgwerkers in die Wes-Kaap en Limpopo geprikkel.

op 'n keer

'seesterretjie'

Hierdie woorde is waar van al die NWU-personeellede wat by die Skool vir Verpleegkunde se Starfish-projek betrokke is.

 

Dié projek is vernoem na die legende oor die seuntjie wat op ’n strand vol seesterretjies gestaan het en party van hulle in die water teruggegooi het. Toe iemand vir hom sê dit sal nie regtig ’n verskil maak nie, het hy een opgetel en gesê: “Vir hierdie een sal dit wel ’n verskil maak.”

 

Hierdie vierjaarprojek het in Januarie 2018 begin met die hoofdoel om die versorging van pasgebore en ander babas, en kinders tot op die ouderdom van vyf jaar, te verbeter. Die projek, ’n samewerkingsonderneming tussen die NWU en die provinsiale Departement van Gesondheid, het met 50 deelnemers begin.

 

Bemagtig gesondheidsorgkundiges

 

Die projek se doel is ook om gesondheidsorgkundiges en -werkers te bemagtig deur die personeel se vertroue in die verskillende instellings, soos klinieke en hospitale, te verbeter.

 

Nog ’n doelwit is om sentrums van uitnemendheid vir die verskillende funksies ten opsigte van die versorging van pasgeborenes en kinders in Noordwes te vestig.

 

Gesondheidsorgwerkers ontvang die jongste inligting oor fetale ontwikkeling, die evaluering van die pasgeborenes, kindersiektes, voeding, noodsorg vir kinders en die normale ontwikkeling van kinders. Hulle word ook geleer hoe om die ma ná die geboorte te versorg.

 

Voorkom sterftes onder kinders

 

“Van die vernaamste oorsake van kindersterftes en kindermorbiditeit is faktore soos wanvoeding en swak higiëne. Dit kan maklik voorkom word as mense met die nodige kennis toegerus word,” sê prof Welma Lubbe, die projekleier.

 

“Dit is onmoontlik vir ons om regoor die provinsie te reis om moeders op te voed. Daarom wil ons met hierdie projek die gesondheidsorgkundiges en  werkers bemagtig sodat hulle weer ander kan opvoed.”

 

Uitdagings en suksesse

 

Geen projek is sonder uitdagings nie. “Ons het uitdagings soos vervoerkwessies en personeeltekorte, asook ’n gebrek aan geskikte opleidingsentrums, maar ons werk daaraan om dit te bowe te kom,” sê Welma.

 

Die projek word as baie suksesvol beskou. Volgens die terugvoering van klinieke wat in 2018 aan die Starfish-projek deelgeneem het, het dit ’n baie groot verskil gemaak en ’n meer positiewe en doeltreffende werksomgewing geskep.

 

“Die personeel wat ons opgelei het, het teruggegaan en met verskillende inisiatiewe vorendag gekom oor hoe om hul kliëntediens te verbeter,” sê Welma. “Hulle het plakkate gemaak, en tydens hulle tuisbesoeke aan mense behoorlike inligting oor kwessies soos higiëne en voeding gegee.”

 

Grootouers neem ook deel

 

Daar is ook ’n ondersteuningsgroep begin wat oumas leer hoe om pasgeborenes te versorg. Dit het daartoe gelei dat oupas gevoel het hulle word buite rekening gelaat, en toe is ’n groep vir oupas ook gestig.

 

Mites oor hoe om vir pasgeborenes te sorg, is uit die weg geruim, en grootouers het ook die korrekte inligting ontvang oor hoe om mediese noodtoestande te hanteer.

 

“Ek wil almal bedank wat betrokke was om van hierdie projek ’n sukses te maak,” sê Welma.

 

Die Starfish-projek bewys dat al kan ons nie die hele wêreld verander nie, ons ten minste ʼn klein deeltjie daarvan beter kan maak. Kennis kan lewens red, selfs al is dit net een baba op ’n keer. Vir daardie kinders maak dit die wêreld se verskil.

 

Gesondheidsorgkundiges woon een van die werkswinkels as deel van die Starfish-projek by.

 

Een van die doelwitte van die Starfish-projek is om mense toe te rus met kennis en vaardighede om met babas en jong kinders te werk.

 

Die sterftesyfer onder pasgeborenes en kinders jonger as vyf jaar het tussen 2000 en 2016 met onderskeidelik 39% en 47% gedaal (VN, 2018:4).

 

Die sterftesyfers in Afrika suid van die Sahara en Suid-Asië is egter hoër vergeleke met dié in ontwikkelde lande.

 

Die sterftekoers vir kinders onder vyf jaar was 86 per duisend in 2015, en die sterftesyfer vir pasgeborenes 28 per duisend in 2016 (VN, 2017:5; VN, 2018:4).

 

ROL AF

ROL AF