KWALITEIT

moet oral koning kraai

ROL AF

ROL AF

Kwaliteit was nog altyd vir die NWU belangrik, maar dit het sedert die herstrukturering van die universiteit as ’n unitêre instelling nuwe momentum gekry – iets wat die belangrikheid van belyning beklemtoon.

 

Dit is een van die doelwitte van ’n reeks werkswinkels wat die kwaliteitsbevorderingskantoor vir ondersteuningsdepartemente op al drie die NWU-kampusse aangebied het.

Agt werkswinkels is reeds sedert Mei 2018 gehou, en meer as 100 ondersteuningspersoneellede het dit bygewoon. Die mees onlangse werkswinkel is op 22 en 23 Mei 2019 gehou, en daar word nog meer vir die toekoms beplan.

 

“Belyning is een van die grootste kwessies en behoeftes vir departemente,” sê Johanna Müller, die kwaliteitbestuurder vir ondersteuningsdienste.

 

“Die doel van hierdie werkswinkels is om alle departemente te help om volgens die NWU se nuwe unitêre struktuur oor die kampusse heen te belyn. Prosesse en kwaliteitsversekering staan sentraal hierin.”

 

Nommerpas vir elke departement

 

Johanna sê wat hierdie werkswinkels veral waardevol maak, is dat dit prakties en nommerpas is vir die kwaliteitsversekeringprosesse wat op elke departement van toepassing is.

 

Johan Erasmus, die kwaliteitskoördineerder vir kwaliteitsbevordering, sê die personeel kry die geleentheid om te oefen hoe om prosesse te ontwerp. “Ons neem hulle deur verskillende fases – van besluitneming tot hoe om ’n verslag op te stel.”

 

Verseker ’n gladde oorgang

 

Daar is tweedag- en vierdagwerkswinkels wat albei ontwerp is om ’n effektiewe, belynde werksomgewing te verseker.

 

“Met elke werkswinkel probeer ons ’n padkaart ontwikkel wat aandag aan die behoeftes van elke departement gee. Dit help die personeel om sleutelkwessies soos strategie, doel, rolle, prosesse en risikobestuur in ’n omvattende handleiding te dokumenteer,” sê Johanna.

 

“Dit help hulle om ’n gladde oorgang te maak wanneer een kampus met ’n ander een belyn word.”

 

Fasiliteerders verstaan behoeftes

 

Die fasiliteerders is die gerespekteerde personeellede Corneels Schabort en GP van Rheede van Oudtshoorn. Johanna sê hul aanbiedingsvaardighede het reeds tot baie positiewe terugvoer gelei van personeel wat die werkswinkels bygewoon het.

 

“Hul kundigheid, onderskeidelik as ’n akademikus en ’n bemarker, illustreer hoe die ondersteuningspersoneel en akademici doeltreffend kan saamwerk om kwaliteitsbevordering te verseker.”

 

Sy sê die verbintenis van die bestuur was ’n belangrike suksesfaktor.

 

“Ons is veral dankbaar vir die ondersteuning van prof Linda du Plessis, wat baie positief teenoor hierdie nuwe benadering van kwaliteitsbevordering is. Haar ondersteuning help ons om hierdie inisiatief deur te voer, wat uiteindelik die personeel sal bemagtig.”

 

Ondersteuningsdepartemente wat reeds aan die werkswinkels deelgeneem het, sluit onder andere die Loopbaansentrum, Hoërgrade-administrasie, Navorsingsondersteuning, die Sentrum vir Onderrig en Leer, en Inligtingstegnologie in.

 

Klik hier vir meer inligting oor die werkswinkels. (Teken in met jou gebruikersnaam en Novell-wagwoord.)