Jacob Nxadi het onlangs sy vierde dan in karate verwerf.

ROL AF

Ntate Jacob help omdat hy gehelp is

Ná amper 35 jaar is Jacob Nxadi, of Bra Jay, meer as bloot ’n bekende gesig op die kampus in Vanderbijlpark – hy is familie.

ROL AF

Jacob werk as administratiewe assistent by die store in die Instandhoudingsdepartement. Op 59-jarige ouderdom jaag hierdie inwoner van Boipatong nog steeds sy drome na.

 

“Dis ’n wonderlike gevoel om amper 35 jaar lank onafgebroke by ’n instelling soos die NWU te werk,” sê Jacob, wat in 1985 by die NWU aangesluit het.

 

Hy beskryf die vordering wat die NWU sedertdien gemaak het as fenomenaal. “Daar is soveel meer studente, beter infrastruktuur en baie groter gemeenskapsbetrokkenheid.”

 

Hy loop al ʼn lang pad

 

Hy het met ’n matriekkwalifikasie as tuinier op die kampus begin werk.

 

Vandag is hy ’n alumnus van die NWU, met ’n honneursgraad in publieke administrasie, en is jy dankbaar vir die geleenthede wat sy werk by die NWU vir hom gebied het. Dit is waarom hy voortdurend sy kollegas aanmoedig die voordele te gebruik wat vir hulle beskikbaar is om hul studies voort te sit.

 

Karate sit skop in sy lewe

 

Die NWU het hom ook gehelp om sy karateloopbaan te ontwikkel.

 

Jacob het onlangs sy vierde dan in karate verwerf en is ’n sensei en die voorsitter van die Matsushima Vaaldriehoekklub. Hy behoort ook aan die Gautengklub, waar hy net die junior is van shihan (instrukteur van instrukteurs) Noah Pembe, wat ’n vyfde dan het.

 

As voorsitter van die Vaaldriehoekklub koördineer Jacob die samewerking tussen die agt klubs in die Vaaldriehoek, en help hy met die bedryfsuitdagings. Hy tree ook as mentor op en sertifiseer gradering tot op die derde dan-vlak, in samewerking met shihan Noah.

 

“Ek help omdat ek gehelp is,” sê Jacob, met verwysing na hoe hy as tiener die sport van karate geleer het, en hoe sy aanstelling by die universiteit hom gehelp het om sy studies voort te sit.

 

Wat wag vir Jacob?

 

Hy werk reeds hard daaraan om sy vyfde dan te verwerf. “Die volgende gradering is eers in 2023, maar ek moet altyd fiks wees en bybly met my sport as ek dit wil maak,” sê Jacob. Hy leer ook soveel as wat hy kan van sy shihan.

 

Tydens kantoorure is dit egter skouer aan die wiel sit vir Ntate Jacob, soos hy alombekend is. Almal op die kampus ken sy vriendelike gesig, waardeer sy glimlaggende diens en is lief vir hom. Dit is waarskynlik omdat hy elke dag sy mantra uitleef: “Ek help omdat ek gehelp is.”