READ MORE

Tiego Kgomo volg in die voetspore van dr Joe Tshifularo, wat vanaf Julie 2015 vir ’n tydperk van drie jaar as ondervoorsitter van die Raad gedien het.

Tiego glo transformasie bly in die kollig

Soos ons almal weet, is transformasie reeds ’n geruime tyd baie hoog op die agenda van hoër onderwys. Tiego Kgomo, ons nuwe ondervoorsitter van die Raad, glo dit sal steeds in die kollig bly.

ROL AF

“Hierdie agenda sal voorop staan in alle aspekte wat met hierdie sektor verband hou. Dit sluit NSFAS, benaderings van die universiteitsbestuur en politieke ontplooiing van ministers in,” verduidelik Tiego, wat ook die voorsitter van die Raad se transformasie-oorsigkomitee is.

 

Tiego, wat by die raadsvergadering van 20 September 2018 as ondervoorsitter verkies is, voeg by dat die Raad as geheel op ’n unieke manier gereed is om die transformasie-agenda in die NWU se strategie te bevorder.

 

’n Man van vele ampte

 

Tiego staan in talle professionele ampte, waarvan die jongste die ondervoorsitter van die Raad is. Hoër Onderwys en Opleiding se minister Naledi Pandor het hom vir ’n driejaartermyn, van 2017 tot 2020, as raadslid aangestel.

 

As trotse alumnus van die voormalige Universiteit van Noordwes in Mahikeng, spog Tiego met ’n BCom-graad. Hy is tans die uitvoerende direkteur van Henjen Petroleum (Edms) Bpk, wat by Engen, ’n wêreldwye energiemaatskappy, geaffilieer is.

 

Gereed om te dien

 

Tiego, wat op verskeie hoëvlak-NWU-komitees dien, sê sy aanstelling as raadslid is die voortsetting van groot moontlikhede. Dit bevestig ook dat God getrou en altyd aan sy sy is. “Ek glo ek is tot enigiets in staat deur Christus wat my krag gee,” sê Tiego.

 

“Om op die Raad se uitvoerende komitee te dien, beteken groter verantwoordelikheid, aanspreeklikheid en deursigtigheid. Dit bied ook die geleentheid om met ’n span saam te werk wat passievol oor Suid-Afrika, ons universiteit en sy belanghebbers is.”

 

Sake in die kollig

 

Tiego sê benewens die Suid-Afrikaanse transformasie-agenda, is studentebefondsing ook in die kollig en boonop ’n kritieke uitdaging.

 

Ten opsigte van universiteitsrade is ’n billike genderbalans ook baie belangrik, asook die versekering dat die samestelling van hierdie strukture die demografie van Suid-Afrika weerspieël.

 

Regverdigheid is deel van Tiego se siening, en so ook sy begeerte om ’n positiewe verskil te maak. Met transformasie, gelykheid en maatskaplike geregtigheid hoog op die agenda by die NWU, is hy voorwaar op die regte tyd op die regte plek.

  • Na wat luister jy wanneer jy motor bestuur?

    Ek luister meestal na Gospel, maar ek geniet ook enige klassieke “house”-musiek en luister na programme oor aktuele sake.

  • Gunstelingvakansiebestemming?

    KwaZulu-Natal, Golden Gate en Hongkong.

  • Hoe bring jy jou vrye tyd deur?

    Ek hou daarvan om te lees, na musiek te luister en te oefen. Die heel lekkerste is egter om te reis.

  • Watter sportspanne ondersteun jy?

    Sokker is my spel en ek ondersteun Kaizer Chiefs (PSL), Barcelona (Laliga) en Arsenal (EPL).

  • Wie is jou rolmodel?

    My ma, Catherine Madiate Modise.

TERUG