Die Phoenix lyk meer na ’n voertuig uit ’n wetenskapfiksiefliek as na die mitologiese voël waarna dit vernoem is.

 

Die Fakulteit Ingenieurswese se jongste sonkar het egter sy kant gebring toe dit sy vlerke tydens die Sasol Solar-uitdaging gesprei het en in die algehele vyfde plek geëindig het.

 

Die resies het op 22 September in Pretoria begin en op 29 September in Stellenbosch geëindig nadat die span 2 276,3 km afgelê het.

 

Die Phoenix is die tweede Suid-Afrikaanse sonkar om die resies te voltooi. Die span het kort op die hakke geëindig van die motor van die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) wat 2 397 km afgelê het.

 

Die span het onder moeilike omstandighede ’n baie moedige poging aangewend en kan met reg trots voel op hul prestasie.

 

Die Phoenix is steeds deel van die NWU se poging om die beste sonkarspan in Suid-Afrika te hê. Wie weet, die Phoenix en haar span ingenieurs en bestuurders kan dalk net uit die vyfde posisie opstyg en in die eerste plek eindig.

 

Vat sonkrag verder as tevore

 

Wat sonkragaangedrewe voertuie betref, is afstand die heel belangrikste. Hoewel spoed ook saak maak, gaan dit in hierdie resies oor hoe ver ’n voertuig op sy kragbron kan ry.

 

Die Nederlandse span, Nuon, het die 2018 Sasol Solar-uitdaging gewen deur ’n afstand van 4 030,4 km te voltooi. Japan se Tokai-span, wat 3 941,4 km afgelê het, was tweede.

 

Die Sasol Solar-uitdaging is ’n tweejaarlikse wedren. Spanne van regoor die wêreld ontwerp en bou sonkragaangedrewe voertuie om in agt dae regoor Suid-Afrika te ry. Hulle volg elke dag ’n vaste roete en voltooi dan bykomende rondtes met die krag wat hulle oor het.

 

Phoenix is die jongste weergawe van die NWU se reeks sonkragkarre en die opvolger van Naledi wat twee jaar gelede die ster van die Solar-uitdaging was.

 

 

ROL AF

Volg die Phoenix op sy lang reis tydens hierdie jaar se Sasol Solar-uitdaging.

 

Die sonkar het ’n unieke, ligte ontwerp met ’n swaartepunt wat nader aan die voorkant van die kar is. Dit het ook ’n nuwe suspensie, ’n nuwe stuureenheid, baanbrekersagteware wat ontwerp is om telemetrie te meet, en ’n span wat oorloop van entoesiasme.

Phoenix vlieg na die vyfde plek

ROL AF

READ MORE