READ MORE

NWU-legende prof Simon Taole het 38 jaar gelede by die NWU aangesluit.

Hoewel die NWU se fisikarekord nie naastenby so oud is nie, het sy nederige begin ook tot ’n legende gegroei.

 

Twee leiersfigure van die universiteit is opgeleide fisici en albei het hul liefde vir hierdie dissipline aan ’n ander legende, prof Simon Taole, te danke. Hy was die NWU Raad se voorsitter, dr Bismark Tyobeka, en die visekanselier, prof Dan Kgwadi, se fisikadosent.

 

“Dit is vir my ’n eer dat ek tydens hul voorgraadse jare vir hulle kon klasgee. Ek is baie trots daarop dat ek tot hulle sukses kon bydra,” sê Simon.

 

Hy het in Junie 1980 by die Fisika-departement van die destydse Universiteit van Bophuthatswana begin. Daar was toe slegs 23 studente, en tot die koms van prof Lesole Gadinabokao in 1981 was Simon die enigste dosent in die departement.

 

Portrette gee erkenning aan pioniers

 

As jy by die raadsaal van die huidige Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe instap, sal jy twee lewensgrootte portrette van Simon en Lesole sien. Dit is ter erkenning van hul bydrae as stigterslede van die vorige weergawe van die fakulteit in 2011.

 

Simon is vandag nog deel van die fakulteit en onderrig ’n module genaamd Verstaan die Wêreld. Hy gee ook fisika vir derdejaars en doen honneursgraad-studieleiding.

 

Diep wortels in fisika

 

Simon, wat vroeër die dekaan van die voormalige fakulteit was, sê hy is baie trots op sy rol in die organisering van die heel eerste jaarlikse Suid-Afrikaanse Fisika-instituut-konferensie by die voormalige Universiteit van Noordwes. Dit was ’n eerste vir ’n historiese swart instelling.

 

Simon, wat oorspronklik van Lesotho is, het ’n BSc en ’n MSc ontvang van universiteite in die Verenigde Koninkryk en ’n PhD in fisika van die Ottawa Universiteit in Kanada.

 

Hy het vroeër aan die Universiteit van Lesotho en die Universiteit van Botswana klasgegee, en toe 38 jaar gelede by die NWU aangesluit.

 

Eeue het verbygegaan sedert Newton die appel uit die boom sien val het, en dit is amper vier dekades sedert Simon in Mahikeng aangekom het. Ná al hierdie jare doen hy nog steeds waarvoor hy lief is: om vir jongmense van die wonderwêreld van fisika te leer.

 

 

TERUG

Fisika toe en nou: vergelyk appels met pere

ROL AF

Fisika het oor die afgelope drie eeue ’n lang pad gekom vandat ’n appel na bewering destyds uit ’n boom op Isaac Newton se kop geval het.