READ MORE

ROL AF

Die sportvelde op die kampus in Mahikeng kan nie in beter hande wees nie. Itumeleng “Spina” Leping glo die sportvelde moet net so voortreflik soos die universiteit wees.

Hou ons sportgronde in 'n perfekte toestand

“Gert Venter, die bestuurder wat ek destyds gehad het, het gesê ‘jy kan ’n loopbaan hiervan maak’,” onthou Spina, soos hy alombekend is. Hierdie bynaam kom van sy dae as sokkerspeler en sy talent om die bal te laat tol.

 

Sy hart is in tuinbou

 

Vandag is Spina die versorger van die NWU se sportvelde in Mahikeng.

 

Spina sê hy het altyd geweet sy hart lê in tuinbou. “By die NWU het ons kikoejoegras, maar ek onthou in standerd 7 (nou graad 9) het my pa evergreen-gras gehad. Dié soort gras, ook bekend as shadow over, het konstante skaduwee nodig.

 

“Ons tuin was destyds die soort gesinstuin wat almal in ons gemeenskap wou gehad het,” onthou hy sy nederige begin in Potchefstroom.

 

Nadat hy kursusse in onder andere tuinuitleg, die gebruik van chemiese middels en blomvorming bygewoon het, het Spina die ingewikkeldhede wat by tuinbou betrokke is, begin verstaan en waardeer.

 

As terreinopsigter het hy ook belangrike besonderhede soos hoe om onkruid uit die veld te hou sonder om die gras te beskadig, onder die knie gekry.

 

Sportspanne kan verseker wees van nog talle goeie velde in die jare wat voorlê, aangesien Spina se wortels by die universiteit diep lê.

 

Hy is ook ʼn geesdriftige sokkerondersteuner en het nog nie een Varsity-sokkerwedstryd gemis sedert die toernooi in 2013 begin het nie.

 

Dat die tuisspan nie die finaal van die 2018-toernooi gehaal het nie, het Spina erg ontstel. “Hulle moet hier wen. Dis hul tuisveld.”

 

Net die beste

 

Spina glo die NWU se sportvelde moet prioriteitaandag geniet. “Hulle moet die prag van hierdie universiteit weerspieël en van wêreldgehalte wees.”

 

Dis nog te vroeg om te sê, maar Spina meen sy tweejarige seun toon dieselfde eienskappe as sy pa – ’n groot liefde vir sokker en om met sy hande te werk.

 

Dit is amper vyfuur en Spina pak op. Môre sal hy weer douvoordag aanmeld om seker te maak dat die universiteit sportvelde het waarop almal trots kan wees.

Toe Itumeleng “Spina” Leping op 12 Oktober 2009 sy eerste tree op ʼn sportveld by die NWU gegee het, het hy geweet hy gaan mal wees oor sy werk.