READ MORE

Ruimtebeplanning – ’n holte vir elke voet

FOKUS OP

Liesel van Wyk met ʼn voorbeeld van ʼn aanwysingsbord waarvoor haar afdeling ook verantwoordelik is.

Eish! het met Liesel van Wyk, direkteur van die afdeling vir fasiliteite, ruimtebestuur en nutsdienste gesels oor die ruimte-oudit wat hulle tans op die drie kampusse doen.

Volgende keer as jy op die kampus stap en die mooi nuwe gebou langs jou bewonder, dink bietjie oor hoe dit verband hou met die groter plan om ruimte by die NWU ten beste te benut.

 

V: Wat behels hierdie ruimte-oudit?

A: Dit is ʼn intensiewe en omvattende ruimte-oudit van elke sentimeter ruimte op die drie kampusse. Ons gaan dit gebruik om die data op ons gebouplanne en ons databasis te hersien.

 

V: Hoekom doen julle die oudit?

A: As ons ons geriewe optimaal wil benut, moet ons eerstens weet watter tipe ruimtes ons het, hoeveel daar is en wie dit gebruik. Daarby verwag die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding dat ons jaarliks verslag moet doen oor elke vierkante meter ruimte by die universiteit.

 

Die oudit is ook uiters belangrik vir die volhoubare groei van die universiteit. Die NWU het tans bates van meer as R8 biljoen wat oor die drie kampusse versprei is. Die universiteit kan nie net aanhou ontwikkel nie, want dit het ʼn geweldige invloed op die bedryfskoste.

 

Ons afdeling behartig byvoorbeeld die diensterekening van die kampusse. Dit beteken ons moet maandeliks tussen 500 en 600 elektrisiteitsmeters deur ons sagteware lees en met die munisipale rekeninge vergelyk. ʼn Kragrekening op die Potchefstroomkampus kan tot byna R10 miljoen per maand beloop.

 

V: Het julle nie reeds inligting oor ruimtes by die NWU gehad nie?

A: Ons inligting oor ruimtes was voorheen baie gefragmenteerd en in baie gevalle net op papier of gebouplanne beskikbaar. Die oudit sal verseker dat alle inligting op een punt beskikbaar is.

 

Die data sal ook die vertrekpunt wees om instandhouding, beplanning en konstruksie te vergemaklik.

 

V: Wat gaan julle doen as die oudit klaar is?

A: Eers as die data ingesamel en gedokumenteer is, sal ons kan sien waar daar in die verskillende fakulteite te min ruimte is. In die Fakulteit Ingenieurswese, byvoorbeeld, sal ons dan volgens staatsriglyne kan bepaal hoeveel vierkante meter ʼn ingenieurstudent in ʼn laboratorium nodig het.

 

Die ruimte-oudit sal dekane van behoorlike inligting voorsien sodat hulle hul beplanning kan doen. Dit sal ook ʼn rol kan speel wanneer nuwe akademiese programme beoog word. Benewens die impak op die NWU se begroting, sal die data aandui of ʼn nuwe gebou nodig is voor so ʼn program aangebied kan word.

 

Hierdie data word ook bestuursinligting wat ingevoer word in die Ruimte-ontwikkelingsplan van die universiteit, wat Joep Joubert, die hoofdirekteur vir fasiliteite, ontwikkel het.

 

V: Hoe lank gaan die oudit duur?

A:  Omdat ons inligting so gefragmenteerd is, gaan dit ons nog ʼn hele klomp maande besig hou. Ons kyk ook na nuwe rekenaarprogramme wat die Fasiliteitsafdeling se werkswyses gaan verbeter.

 

V: Daar word gesê dat departemente en fakulteite vir hul ruimtes gaan betaal – waaroor gaan dit?

A: Die ruimte-benutting van die oudit word só intensief gedoen dat dit afgebreek word tot op module-vlak, byvoorbeeld hoeveel ruimte ʼn wiskunde- of geografie-student en ʼn dosent nodig het. Navorsers se ruimte word ook bepaal na aanleiding van die hoeveelheid tyd wat hulle in laboratoriums of kantore deurbring.

 

Betaling vir ruimte sal eers oorweeg word wanneer die oudit voltooi is en ons die nodige riglyne kan opstel. Die idee is dat sodra hierdie riglyne oortree word, daar sprake van betaling sal wees, maar ons is nog ver daardie punt af.