READ MORE

Weg is die ou woonstel en siedaar, hier’s die splinternuwe kantoor.

Kampus se tuisteskeppers kry eie blyplek

ROL AF

Tydens die amptelike opening van die nuwe kantoor het Greg Roberts (agter) die personeel van Inwoning- en Voedseldienste spesiaal bedank en hulle die hart en siel van die departement genoem. Saam met hom is prof Fika Janse van Rensburg (links) en Herman Steyn (regs) wat die lintknipseremonie gelei het.

Hulle sorg altyd dat ander lekker bly, maar uiteindelik het die mense van Inwoning- en Voedseldienste ook self ʼn gerieflike holte vir die voet gekry. As’t ware ʼn tuiste vir die tuisteskeppers.

 

Om die waarheid te sê was daar eintlik by dié tuisteskepping ʼn towerspreuk betrokke: abrakadabra, weg is die ou woonstel en siedaar, hier’s die splinternuwe kantoor.

 

Dit het gebeur omdat Inwoning- en Voedseldienste (IVD) op die kampus in Potchefstroom as gevolg van die onlangse herstruktureringsproses moes skuif.

 

Gelukkig het hulle die goeie idee gekry om ’n ongebruikte woonstel vir huisouers by die Kom en Gaan-koshuis op te knap.

 

Knip die lint

 

Toe, op 20 September, terwyl die son helder skyn en die palmbome saggies in die wind ritsel, is die lint geknip en die nuwe kantoorruimte amptelik geopen.

 

Prof Fika Janse van Rensburg, adjunk-visekanselier van die kampus, en Herman Steyn, die direkteur vir besigheid en ondernemingsontwikkeling, het die seremonie gelei.

 

Greg Roberts, bestuurder van IVD op die kampus in Potchefstroom, het almal wat betrokke was vir hulle harde werk en ondersteuning bedank – van die bestuur tot die verskillende kontrakteurs en projekspesialiste.

 

Kwaliteitdiens is hul slagspreuk

 

IVD speel ’n belangrike ondersteuningsrol op die kampus deur kwaliteitvoedsel en leefruimtes vir studente en personeel te lewer.

 

“Ons huisves studente en gaste in ons reeks hoëkwaliteit en goedtoegeruste geriewe,” sê Greg.

 

“Ons streef ook daarna om aan ons kliënte ’n groot verskeidenheid gebalanseerde maaltye en verversings teen bekostigbare pryse te verskaf. Ons berei al die maaltye in ons goedtoegeruste kombuise volgens die beste praktyke voor, en bedien dit in ons eetsale, kafeterias, koffiewinkels, kiosks en restaurante.”

 

Maak leë magies vol

 

IVD verskaf verskillende dienste op die kampus. Hul voedseldienste gebruik twee produksiekombuise, naamlik Dampad en Voorhuis. Benewens om vir Voorhuis se eetsaal voorsiening te maak, verskaf hulle ook etes aan satellietkombuise en eetkamers in ander koshuise, soos Minjonet- en Oosterhof-dameskoshuise en De Wilgers-manskoshuis.

 

Personeel en studente kan tussen 12:00 en 14:00 by enigeen van hierdie eetsale ’n stewige, varsvoorbereide middagete teen ʼn baie billike prys geniet.

 

IVD voorsien ook eetgoed vir funksies en vergaderings. Hulle verskaf gekookte etes, vingerhappies, verversings, kos vir dinees, en verpakte middagetes.

 

Daarbenewens lewer IVD ook voedsel- en drankdienste by verskeie kafeterias en restaurante, en is hulle verantwoordelik vir gasvryheids- en inwoningsdienste.

 

Vir meer inligting oor spyseniering, kontak vir Cindy Vivier by cindy.vivier@nwu.ac.za of 018 299 1116.

TERUG