READ MORE

Prof Emmanuel Mukwevho is mal oor biochemie en deel graag sy kundigheid as lid van ’n hele string nasionale en internasionale liggame waarop hy dien.

Biochemikus doen dit waarop hy versot is

Prof Emmanuel Mukwevho se termyn as raadslid van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Biochemie en Molekulêre Biologie strek van 2018 tot 2021.

’n Onlangse veertjie in sy hoed is sy aanstelling op die raad van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Biochemie en Molekulêre Biologie (SASBMB).

 

Die organisasie se taak is om biochemie en molekulêre biologie in die land te bevorder. Hulle doel is om wetenskaplike uitruiling en interaksie met regeringsdepartemente, die Suid-Afrikaanse Raad vir Natuurwetenskaplikes, en die Internasionale Unie vir Biochemie en Molekulêre Biologie te bevorder.

 

’n Opkomende ster

 

Emmanuel, ’n akademikus in die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe, het ’n Y2-gradering in biochemie van die Nasionale Navorsingstigting. Hy het in Januarie 2017 hierdie onderskeiding – wat aan jong wetenskaplikes onder die ouderdom van 40 jaar toegeken word – gekry.

 

Hy dien sedert 2016 as vakvoorsitter van biochemie op die kampus in Mahikeng en is by verskeie aktiwiteite van die nasionale Departement van Wetenskap en Tegnologie betrokke.

 

Sy invloedsfeer strek tot by die eksterne etiekkomitee van die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad, waar hulle hom vir ’n driejaartermyn vanaf 2018 tot 2021 aangestel het.

 

Emmanuel is ook ’n lid van die Amerikaanse Vereniging vir Biochemie en Molekulêre Biologie en van die Amerikaanse Fisiologievereniging. Hy dien sedert 2012 as kontroleur vir gehaltebeheer op die Raad vir Hoër Onderwys.

 

Oor sy aanstelling by die SASBMB sê hy: “Dit beteken baie dat ek deel is van die uitvoerende besluitnemingsliggaam oor die welstand en bevordering van biochemie en molekulêre biologie in Suid-Afrika.

 

“Hierdie organisasie is by die Internasionale Unie vir Biochemie en Molekulêre Biologie geaffilieer, en dit is ’n eer om op so ’n hoogaangeskrewe raad te dien.”