READ MORE

Motlokwe Thobejane, IT-direkteur op die kampus in Vanderbijlpark, help leerders met loopbaanvoorligting en mentorskap terwyl hy hulle ook oor die toelatingsvereistes vir universiteitstudie inlig.

MOTLOKWE

– ’n groot man met

’n nog groter hart

ROL AF

Daar is drie dinge oor Motlokwe Thobejane wat moeilik is om mis te kyk: sy lengte – 1,96 m om presies te wees – sy kennis van IT, en sy deernis vir ander.

 

Wat talle kollegas dalk nie weet van die nuut-aangestelde IT-direkteur op die kampus in Vanderbijlpark nie, is dat hy ook die besturende direkteur en medestigter is van die Mohlotlo Thuto Foundation (MTF), ’n organisasie sonder winsoogmerk, as vrywilliger by die internasionale Verenigde Nasies (VN) werk, ’n News24-blogger en ’n digter is.

 

Met die herinneringe aan Mandeladag vars in ons geheue, is daar geen beter tyd om meer te leer oor sy stigting en die goeie werk wat hulle in die landelike distrik van Sekhukhune in Limpopo doen nie.

 

Bemagtiging van die jeug die kern van MTF

 

Motlokwe sê hy en sy vriend, Octavius Phukubye, het die stigting in Junie 2013 begin om leerders uit die Sekhukhune-distrik te help om hul akademiese prestasie te verbeter. Die rede hiervoor is om hulle in staat te stel om vir universiteitstudie aansoek te doen en sodoende uiteindelik van die armoedesiklus weg te breek.

 

“Op daardie tydstip is Sekhukhune as een van die mees landelike en akademies onderpresterende distrikte in Suid-Afrika beskou,” sê Motlokwe. As ’n boorling van Morapaneng, ’n klein dorpie in die distrik, ken hy die haglike sosio-ekonomiese omstandighede in die distrik.

 

Brou akademiese sukses

 

Die woord “mohlotlo” beteken “brou” in Sepedi, en volgens Motlokwe is dit presies wat die stigting wil doen: hulle wil akademiese uitnemendheid brou. Hulle werk tans saam met agt sekondêre skole in die distrik, naamlik Moseki, Lesailane, Tekanang, Tshihlo, Poo, Phafane, Makuane en Mpilo.

 

Saam met ’n span eendersdenkende en toegewyde vrywilligers help Motlokwe hierdie leerders met loopbaanvoorligting, mentorskap en tutorklasse, en inligting oor die toelatingsvereistes vir universiteitstudie.

 

“Ek het besluit om deel van die oplossing te wees, en nie van die probleem nie,” sê Motlokwe. Hy voeg by dat dit maklik is om oorweldig te word deur wat in die wêreld verkeerd is of ontbreek. Dit verg egter moed en hoop om tot aksie oor te gaan.

 

“Ek het in presies dieselfde omstandighede grootgeword as hierdie jongmense, maar met genade en harde werk het ek dit reggekry om talle uitdagings te oorkom. Ek dink dit is waarom die stigting vir my so belangrik is – dit gee my ’n geleentheid om ’n werklike impak te maak op ’n plek waar ek weet elke bietjie baie beteken.”

 

Sy grootste prestasie

 

In 2014, terwyl hy vir die IT-maatskappy EMC (nou Dell-EMC) gewerk het, het hy die EMC Wêreldwye Gemeenskapsdienstoekenning ontvang vir die werk wat hy deur sy stigting doen. Hy is uit talle internasionale kandidate gekies.

 

“In die lig van die sosio-ekonomiese, onderwys- en jeugwerkloosheidsuitdagings in Suid-Afrika het die toekenning die aandag op die werk en behoeftes van die stigting gevestig,” sê Motlokwe. Die toekenning, wat net ’n jaar ná die begin van die stigting gemaak is, het hom en die ander vrywilligers gemotiveer om selfs harder te werk en meer leerders te help om verandering teweeg te bring. Tot dusver het meer as 5 000 leerders by die stigting se werk gebaat.

Laat jou passie jou lei

 

Op ’n vraag oor hoe ander tot die kultuur van omgee kan bydra, het Motlokwe die volgende raad gegee: “Laat jou passie jou lei. Die eerste stap is gewoonlik die moeilikste, maar wanneer jy eers begin het, word dit makliker. Wees onselfsugtig. Gee sonder om iets terug te verwag, en die belangrikste is: besef dat selfs die kleinste gebaar ’n geweldige verskil kan maak.”

 

 

ROL AF