TOPPERSONEEL

word topstudente

Twee personeellede, Innocentia Pitso en Lynn Booysen, was onder die topstudente van 2017 in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe op die kampus in Vanderbijlpark.

Lynn Booysen (middel) sê die afgelope drie jaar het haar baie oor haar eie krag en vermoëns geleer. By haar is prof Elrie Botha, die adjunkdirekteur van die Skool vir Bedryfsielkunde en Mensehulpbronbestuur (links), en prof Linda du Plessis, die adjunk-visekanselier vir geïntegreerde beplanning en kampusbedrywighede in Vanderbijlpark (regs).

Dit was ’n driekuns vir Innocentia Pitso toe sy haar honneursgraad in bedryfsielkunde ontvang het, aangesien sy reeds twee BCom-grade het. Saam met haar is prof Elrie Botha, die adjunkdirekteur van die Skool vir Bedryfsielkunde en Mensehulpbronbestuur.

Mensehulpbronpraktisyn Innocentia Pitso het ’n honneursgraad in bedryfsielkunde ontvang, en senior administratiewe assistent Lynn Booysen het ’n BA in bedryfsielkunde ontvang.

 

’n Driekuns vir Innocentia

 

“Jou drome is waardevol; moenie dat iemand jou anders oortuig nie.” Dit is die raad wat Innocentia Pitso aan haar jonger self sou gee as sy kon. Hierdie dinamiese jong vrou is as een van die top honneursstudente van 2017 by die fakulteit se uitnemendheidstoekennings vir studente vereer.

 

Innocentia het op 10 Mei 2018 vir die derde keer graad gekry toe sy haar honneursgraad in bedryfsielkunde ontvang het. Sy het reeds ’n BCom in entrepreneurskap en ondernemingsbestuur, en ’n BCom in bedryfsielkunde en arbeidsverhoudingebestuur.

 

Sy is besonder trots daarop om ’n NWU-gegradueerde te wees: “Vir my beteken dit dat ek nie net gesertifiseer is nie, ek is bevoeg, ontwikkel en bemagtig om waarde tot die sakewêreld en in my eie gemeenskap toe te voeg,” sê sy. Hoe het sy dit reggekry? Innocentia glo daarin om haar mantra te volg: Dissipline plus tydsbestuur minus uitstel. Sy is reeds met haar meestersgraad in mensehulpbronbestuur besig.

 

Lynn vind haar plek

 

Nadat sy vyf keer haar werk in verskillende poste in ander organisasies verloor het, het Lynn Booysen se loopbaanpad haar tot by die NWU se kampus in Vanderbijlpark geneem, waar sy as senior administratiewe assistent by die Optentia-navorsingsfokusarea in diens is. Haar droom van tersiêre studie was uiteindelik binne bereik, en hierdie dinamiese Vaaldriehoek-boorling het nie gras onder haar voete laat groei om die pad na die verwerwing van ’n graad te betree nie.

 

“Jy kan dit doen. Jy sal dit doen,” was die aanmoediging wat haar ma haar gedurig gegee het. Hierdie ondersteuning het haar nie net deur ’n jaar vol uitdagings en siekte gedra nie, maar haar ook deur haar finale eksamen vir ’n BA in bedryfsielkunde gehelp.

 

Lynn het ’n dierbare vriendin tydens haar drie studiejare gemaak. Ellen Matsobane is ’n arbeidskonsultant van Vereeniging. “Ons het saam gestudeer, saam gelag en saam gehuil, en in die proses ’n wonderlike vriendskap gesmee,” sê Lynn.

 

Die kampus in Vanderbijlpark het ’n spesiale plekkie in Lynn se hart. “Daar is ’n kultuur van aanvaarding en verdraagsaamheid op die kampus, en ’n openheid om nuwe idees te kry om dinge te doen,” sê sy. Lynn het besluit om haar studie in 2018 te onderbreek en sal in 2019 ’n honneursgraad aanpak. Wanneer sy dit bereik het, hoop sy om ’n psigometris te word.

 

 

>

LEES MEER

>