>

>

Boodskap van die

ViSEKANSELIER

BESTE KOLLEGA,

Ek geniet dit om met studente op al drie ons kampusse te gesels.

 

Ek het onlangs die geleentheid gehad om studente raak te loop wat vlotte vir die jool op die Potchefstroomkampus gebou het. Ek was beïndruk met die organisasie, die toegewyde werk van die studente en hulle entoesiasme om die gemeenskap deur hierdie vrywillige werk te dien.

 

Net so het ek op die Mafikengkampus, waar ek meer as een keer hierdie jaar was, die geleentheid gehad om eerstejaars, hul ouers en studenteleiers te ontmoet. Op die Vaaldriehoekkampus het ek die voorreg gehad om personeel en studente, waaronder eerstejaars, te ontmoet.

 

’n Reeks informele geleenthede sal hierdie jaar geskep word waar ek op al die kampusse sal rondstap en personeel in hul werksomgewing sal ontmoet. Dit sal die ontbytvergaderings vervang wat ons in die verlede gehou het.

 

Die doel is nie net om kollegas persoonlik te ontmoet nie, maar ook om te sien wat hulle doen en só eerstehands te ervaar hoe die NWU verander, werk en groei.

 

Soos julle sal verstaan, is dit nie moontlik om elkeen persoonlik te ontmoet nie, maar ek sal stelselmatig met die hulp van Warren Makgowe, direkteur vir belanghebberverhoudinge, en sy span oor ’n tydperk by so veel kollegas as moontlik uitkom.

 

Julle is altyd welkom om vir my ’n e-pos of ’n SMS te stuur as julle my moet kontak. Ek het ook ’n oopdeurbeleid wat net deur tydsbeperkings aan bande gelê word. Skakel my kantoor by 018 285 3002. Ek wil julle terselfdertyd aanmoedig om kwessies met jul lynbestuurders op te neem. Sonder terugvoer is ons bestuurders nie altyd van uitdagende kwessies bewus nie.

 

Intussen beplan ons nog ’n groot gespreksgeleentheid in die maande wat voorlê. Meer daaroor later.