>

LEES MEER

>

NWU is een

van topvyf innoverende

universiteite in SA

’n Bibliometriemaatskappy*, Clarivate Analytics, het ’n verslag gepubliseer wat die NWU as een van die topvyf innoverende universiteite in Suid-Afrika aandui.

 

* Bibliometrie behels die statistiese ontleding van skriftelike publikasies soos boeke of artikels. Bibliometriemaatskappye verskaf onder andere navorsings- en beleggingsinligting.

Die verslag, “A focus on the top 5 innovative universities in South Africa”, het universiteite ondersoek en hoe hulle bydraes oor die totale nasionale landskap versprei is. Die vernaamste doelwit van die verslag was om innovasie-aanwysers te soek en te kyk wat universiteite doen wat samewerking- en bedryfsvennote betref.

 

Universiteite is gemeet aan die hand van navorsings- en innovasieproduktiwiteit om die belangrikheid van navorsingsindekse in die meting van wetenskapinnovasie-omskakeling te bepaal. ’n Belangrike faktor was of navorsingsimpak aan innovasie-uitsette toegeskryf kan word.

 

Die verslag het die NWU geloof as die universiteit wat die meeste uitgestaan het. “Die Noordwes-Universiteit was onder die topvyf-patentindieners. Die NWU het ’n indieningstrategie van meer patentfamilielede per uitvinding as ander universiteite en hulle gepubliseerde patentuitset is dus hoër. Dit help hulle om die nommereen-posisie ten opsigte van innovasie te bereik. Dit is ’n belangrike waarneming en iets wat duidelik van ander universiteite verskil.”

 

’n Aangename verrassing

Prof Deon de Beer, die NWU se uitvoerende direkteur vir tegnologie-oordrag en innovasie-ondersteuning, sê die NWU was aangenaam verras om onder die topvyf innoverende universiteite geplaas te word. “Ons het nie ’n verslag aangevra nie; dit was heeltemal onverwags. ’n Voormalige kollega het my laat weet dat die verslag aangebied is by die konferensie van die Suid-Afrikaanse Navorsings- en Innovasiebestuursvereniging (SANIBV), wat van 22 tot 25 Mei in Windhoek gehou is.”

 

Deon sê die verslag is ’n bonus vir die universiteit. “Die NWU word nie ten opsigte van die produksie van navorsing as een van die topvyf-universiteite in Suid-Afrika beskou nie, en dit is waarom hierdie verslag toon dat ons al hoe mededingender in die sektor word. Dit is bemoedigend dat buite-evalueerders dit raaksien.

 

“Ons is die enigste universiteit onder die topvyf innoverende universiteite wat nie ’n mediese skool het nie. Dit is belangrik omdat mediese skole gewoonlik vir aansienlike volumes navorsingsuitsette verantwoordelik is.”

 

Hy glo die NWU se gradering is ’n duidelike aanduiding dat sy patentstrategie hom toegelaat het om groter universiteite in te haal. “Die bevindings is ook op historiese data gegrond, wat bewys dat die universiteit se kommersialisering- en innovasiestrategie, wat reeds lank in posisie is, gesond en doeltreffend is.

 

“Op die ou einde gaan alles om die gesamentlike impak van navorsing en innovasie. Goeie innovasie en kommersialisering hang van betekenisvolle navorsingsresultate af. Ons kan trots wees op ons hele waardeketting – van die begin af met navorsing wat deur fakulteite gedoen word, tot aan die einde met die patentering en kommersialisering van innovasie.”