Leonie van der Vaart studeer in Suid-Afrika onder leiding van prof Ian Rothmann, direkteur van die Optentia-navorsingsfokusarea op die NWU se kampus in Vanderbijlpark, en in België onder prof Hans de Witte en prof Anjae van den Broeck aan die Katholieke Universiteit Leuven.

 Leoni leef op ’n drafstap

Leoni van der Vaart se nuuskierigheid laat haar die wêreld vol reis.

Sy wonder oor mense en oor hoe hulle reageer op dinge wat oor hulle lewenspad kom. Hierdie leergierigheid motiveer dié jong akademikus van die Optentia-navorsingsfokusarea op die NWU se kampus in Vanderbijlpark om aan te hou studeer – sy werk tans aan haar sesde graad.

 

In die proses ontdek sy nuwe horisonne – geografies én intellektueel.

 

Sy het in Junie 2016 die eerste voordrag gegrond op haar PhD-studie, met die titel: “The wellbeing and motivation of unemployed people” in Griekeland gelewer. Daarna is sy na België waar sy drie maande aan die Katholieke Universiteit Leuven (KU Leuven) met haar studieleiers deurgebring het voor sy aan die einde van Desember terug op eie bodem was.

 

Taspak is haar voorland

Leoni is tans vir drie maande in België. In dié tyd, op 19 Mei, het sy ’n voordrag oor haar studie oor werkloosheid in Ierland gelewer. Na verwagting sal sy pas terug wees in Suid-Afrika in Julie voor sy weer na Utrecht in Nederland sal vertrek waar sy ʼn werkswinkel gaan bywoon.

 

Dié gereelde taspakkery is onvermydelik, omdat Leonie deel is van ʼn span van drie studente wat besig is om tussen die NWU en die KU Leuven in België hul onderskeie PhD's te voltooi. Die projek word deur VLIRous, die interuniversiteitsraad aan die Vlaamse deel van België, befonds as ʼn ontwikkelingspoging om kapasiteit in die ontwikkelende wêreld te bou.

 

Leoni moet elke jaar drie maande in België deurbring en ook aan internasionale konferensies deelneem waar sy netwerke met ander navorsers kan bou wat ook werkloosheid in hulle eie lande ondersoek.

 

Delf altyd dieper

Leoni sê haar motivering is haar leergierigheid en haar passie om meer te weet en mense beter te verstaan.

 

“Ons dink altyd ons uitdagings in Suid-Afrika is uniek, maar hoe meer ʼn mens met navorsers uit ander dele van die wêreld praat, hoe meer sien jy dat die reaksies van mense in dieselfde omstandighede maar baie dieselfde is,” sê Leoni. Sy meen dat hoewel die werkloosheidsyfer in ons land baie hoër is as in ander lande, dit steeds dieselfde reaksies by mense regoor die wêreld ontlok.

 

Sy is ʼn oud-leerling van Hoërskool Sasolburg en alumna van die NWU se kampus in Potchefstroom waar sy ʼn BSc in voeding en sielkunde verwerf het. Nadat sy haar honneurs in sielkunde op die NWU se kampus in Vanderbijlpark verwerf het, was sy ʼn jaar in die praktyk, waarna sy haar honneursgraad (Vanderbijlpark) en later haar meestersgraad (Potchefstroom) in menslike hulpbronbestuur verwerf het.

 

Leonie se soeke na kennis het daarna tot ʼn tweede meestersgraad – dié keer in bedryfsielkunde – aan die NWU se kampus in Vanderbijlpark gelei. Leonie het die eerste jaar van haar PhD gelyklopend met die laaste jaar van haar tweede meestersgraad gedoen en was reeds die jaar daarna studieleier van haar eerste nagraadse student.

 

Sy sê haar kêrel van ses jaar, Danie, ondersteun haar baie wat haar loopbaan en haar studies betref.

 

>

>