beste kollega,

Boodskap van die

Visekanselier

beweeg af

In hierdie uitgawe van Eish! stel ons die nuwe voorsitter van die NWU-raad, dr Mzubanzi Bismark Tyobeka, aan julle bekend en sê terselfdertyd totsiens aan die uittredende voorsitter, adv Johan Kruger.

 

Ons maak ook gereed om prof Martin Oosthuizen, die adjunkvisekanselier vir onderrig en leer, wie se termyn binnekort verstryk, te groet. Hy verlaat ons aan die einde van Mei om hom by sy familie in Somerset-Wes aan te sluit terwyl hy sy loopbaan sal voortsit – hopelik teen ’n effens stadiger pas.

 

Martin was in sy jare by die NWU ’n ware staatmaker op intellektuele en morele gebied. As alumnus van Universiteit Stellenbosch wat by Fort Hare Universiteit, asook die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit, klas gegee het, het Martin ’n vars perspektief by sy werksaamheid aan die NWU gevoeg. Hy het weer eens bewys dat dit altyd ons doelwit moet wees om ons kapasiteit met goeie “invoere” aan te vul – met ander woorde met nuwe bloed wat waarde vir ons universiteit toevoeg.

 

Terwyl ons sal voortgaan om ons eie talent te “kweek” (soos ons nuwe raadsvoorsitter), behoort alle universiteite wat uitnemendheid nastreef ’n mengsel van “plaaslike” en “ingevoerde” talent te hê, hetsy dit op akademiese, bestuurs- of professionele vlak is. So word ons aan verskillende perspektiewe blootgestel sodat ons ’n voortreflike “gemengde” span kan hê.

 

In die maande wat voorlê, gaan ’n paar nuwe gesigte deel van die NWU se senior bestuurspan word, maar in die meeste gevalle gaan ons in oorstemming met die Artikel 189A-proses huidige leiers in nuwe posisies sien. Dit sal vir ’n klompie kollegas die geleentheid gee om nuwe uitdagings te aanvaar en te help om die NWU na nuwe hoogtes in ’n nuwe eenheidstruktuur te lei.

 

Alles in ag genome, is dit ’n opwindende tyd van voortgesette prestasie by en hernuwing van die NWU – iets wat verskeie artikels in hierdie uitgawe weerspieël. Ek vertrou dat dit julle sal bemoedig.

 

 

>

>